Leon van Nierop se fliekresensie: The Good Liar

The Good Liar ***
Met Helen Mirren en Ian McKellen
Regisseur: Bill Condon

Die grootste plesier van hierdie kinkel-in-die-kabel-drama is om twee vermaarde akteurs te sien wat hulleself gate uit geniet om teenoor mekaar te speel: dame Helen Mirren en sir Ian McKellen. En wat ʼn gedoente moes dit nie gewees het om dié twee besige akteurs te kry om tyd af te staan om in hierdie hand-voor-die-mond-slaan-drama te speel nie!

Dit gaan kortliks oor ʼn swendelaar en geldwasser (McKellen) wat onskuldiges uit honderdduisende ponde swendel met ʼn soort piramideskema. Dan ontmoet hy ʼn onskuldige weduwee (Helen Mirren) op ʼn blindemolafspraak, en besluit om haar huis en spaargeldjies ook uit haar te pers vir sy persoonlike en selfsugtige gewin.

Dit is ʼn gemaklike, weldeurdagte kunsrolprent wat vereis dat die kyker konsentreer terwyl hy of sy skaak speel met die regisseur en draaiboekskrywer. Dit is duidelik dat ʼn mens nie noodwendig alles moet glo wat jy sien nie, maar selfs die slimstes onder ons sal dikwels gefop word, amper soos in die donker komedie Knives Out wat ook tans vertoon word.

Dit is Kersklapper-vermaak hierdie. Jy en jou metgesel kry ʼn Kersklapper beet en trek kliphard daaraan. En dan pop daar ʼn verrassing uit die krinkelpapier!

Gaan geniet hierdie onverwagse lekker storie wat jou telkens verras en kul. Dit sal twee ure heerlik en inspanningloos laat verbygaan!

Die fliek wys tans by SterKinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.