Leon van Nierop se resensie: Money Heist

MONEY HEIST     ***
Met Úrsula Corberó en Álvaro Morte
Skepper Álex Pina

Een van die gewildste reekse wat aanhangers van Netflix op die oomblik aan die praat het, is Money Heist. Soos die titel aandui, gaan dit oor ʼn bankroof. Nou vra jy seker moedeloos: hoeveel reekse oor bankrowe kan ʼn mens nóg deursit? Hierdie een is bietjie anders, alhoewel dit jou nie noodwendig dadelik na jou afstandbeheerder hoef te laat gryp om na iets anders te soek nie.

In hierdie geval word ʼn groep vreemdelinge bymekaargemaak deur ʼn slimkop wat homself die Professor noem. Hy beplan om die Spaanse Munt te beroof met ʼn uiteenlopende groep mense wat elk ʼn komiese masker opsit. Soos gewoonlik in die soort reeks gebeur, loop iets skeef. Wag, verander dit na álles loop skeef, want die plan ontspoor heeltemal. Dit is hoekom daar nege episodes is (en ook opvolgreekse)!

Wat ook gebeur, is daardie vreemde Stockholm-sindroom waar die gyselaars en die rowers op ʼn vreemde manier gebonde raak aan mekaar. Noem dit ʼn haat/liefde-verhouding. Die drama wat hieruit voortspruit, dryf die reeks voort.

Aan die positiewe kant beweeg dit vinniger as ʼn meteoor deur die hemelruim. Jy kan omtrent nie byhou nie en voel skoon uitasem, dus mag dit jou laat vraatkyk. Aan die negatiewe kant raak dit ʼn snapsie vergesog. Maar ag, ʼn mens vergewe die skrywers maar die rare storie-slenters, want hulle moet jou voor die TV hou.

Slotsom: kyk hierna, maar moenie te geheg daaraan raak nie. Hierdie Spaanse reeks, wat in Engels oorgeklank is, is nie heeltemal so goed soos wat dit dink dit is nie! Tog word dit met voorbehoude aanbeveel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.