News of the World ***
Met Tom Hanks en Helena Zengel
Regisseur: Paul Greengrass
News of the World is een van daardie outydse rolprente wat meer bejaarde lesers nog meegemaak het toe die dubbele rooi gordyne stadig oor fliekpaleise se reuse-skerms oopgeskuif het, en daardie gehate advertensie, wat waarsku dat dit deur die Publikasieraad goedgekeur is, opgepop het. Ons tjokkertjies het dit altyd geboe want dit het beteken die rolprent was versnipper.
Dit beteken ook dat hierdie ʼn fliek is soos jy dit uit die sestigs en sewentigs onthou met geharde pioniers, ’n Western-storie, ʼn ongekende, wrede en verraderlike landskap, horisonne wat nog ontgin moet word en taai mense wat hulle deur niks laat onderkry nie.
Tom Hanks se Netflix-film News of the World is daardie soort film. ʼn Man so rof en gedetermineerd soos ʼn bul wat uit ʼn kamp wil breek, takel die Wilde Weste. Maar dié jafel het ʼn goeie hart en hy probeer ʼn verlate, loslopende dogtertjie deur rowwe terrein veilig na beskerming lei. Hy lees koerante van dorpie na dorpie vir mense voor wat nie kan lees nie. Hy word nie altyd goed ontvang nie. So leer die kyker sommer wat destyds alles in Amerika gebeur het. Maar nie almal hou van hom of die kind nie, en hulle word aangeval op pad na die volgende bestemming.
Om nuus hardop te lees verander in ʼn stryd om oorlewing wat dikwels jou hart sal vermurwe, of soos die ou Springbokradiostorie: “Die Indringer” gewaarsku het: “Wat elke moederhart sal roer.” Net rowwer. Dit is darem nie so sentimenteel nie en is ontstellend op plekke, vandaar sy 16-beperking. Maar dit sal jou terugneem na die dae toe rolprente nog rolprente was. Mag daardie dae, dus teaters wat voller raak sodat ʼn mens dit saam met ander kan geniet, spoedig terugkeer!
Nuweling Helena Zwengel blink terloops uit as die grootliks stom meisie wat ook ʼn ander taal praat, maar vasbeslote voortveg. Aanbeveel.
Die fliek is op Netflix te sien.
Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite
Die besondere verhouding wat tussen die koppige man en die ewe koppige kind ontwikkel met die minimum taal tussen hulle, was so goed vasgevang. Hulle paaie moes saamvloei, amper asof hulle nêrens anders sou inpas, as bymekaar nie – hulle is so dieselfde in siel – baie determinasie en min woorde, maar groot kapasiteit om lief te hê. . .
Dit is ‘n uitstekende film.
Hoeveel kykers weet dat Neil Sandilands (Bart van 7de Laan faam) die hardkoppige duitser, Mr. Leonberger, in dié film gespeel het???? Ek het hiérdie film geniet.