Leon van Nierop se resensie: The Father

THE FATHER ****
Met Anthony Hopkins en Olivia Coleman
Regisseur: Florian Zeller

Maak geen fout nie. Daar sal lesers wees wat Godzilla vyf sterre sou wou gee en hierdie pragrolprent slegs een ster. Hoekom? Omdat dit “stadig” is en “verveel”. Hoe meer dinge verander (post-Covid) hoe meer bly dit dieselfde. As rolprente egter jou erns is, en jy tans worstel met ʼn familielid wat aan demensie ly, sal hierdie tragiese, noukeurig geregisseerde rolprent jou tot in jou siel ruk. Dit kyk op ʼn opregte, nugter manier na demensie soos geen ander rolprent nog reggekry het nie.

Hier is geen melodrama of lastige storie tandestopsels om die rolprent, soos in ʼn sepie, te rek nie. Net die bar, skrikwekkende en bedroewende feite.

ʼn Vrou (die briljante Olivia Coleman van The Crown) besef haar 80-jarige pa (die weergalose Anthony Hopkins op 83) ly aan demensie. Hulle poog om hom tuis te versorg, maar dis ʼn ramp. Hy raak iesegrimmig, koppig, kwaai, onregverdig en onvergenoegd want hy voel bedreig en hy herken of eien nie meer sy eie familie nie. Hy verander hul lewens in ʼn lewende hel.

Hoe hanteer die familie hierdie probleem? En hoe ver strek ʼn dogter se liefde vir haar pa wat by die dag die kluts in ʼn toenemende mate kwyt raak? As hierdie storie bekend klink en jy tans in ʼn soortgelyke situasie is, vergeet die “stadig” en “noukeurig” en “deeglik”. Die rolprent kyk oopkop, maar ook met angs en onthutsing, na wat gebeur as jy demensie kry. Maar die grootste slagoffers is steeds vriende en familie.

Uitmuntend. Sterk aanbeveel. In teaters te sien.

Die fliek is by Ster-Kinekor en NuMetro te sien.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vrijburger ·

Aaaa bly om Leon se resensies te sien. Hy is my gunsteling resensent op wie se resensies ek onvoorwaardelik peil trek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.