Leon van Nierop se resensie: The Order

The Order  **
Met Jake Manley en Sarah Grey
Skeppers: Dennis Heaton en Shelley Eriksen

Wees versigtig, hierdie is ʼn donker reeks en is hoegenaamd nie so toeganklik soos Little Fires Everywhere nie. Dit is ingestel op lesers wat van skrikwekkende, makabere reekse hou waarin die bonatuurlike soms ʼn rol speel. Die reeks was só gewild op Netflix, dat ʼn tweede reeks onlangs sy buiging gemaak het, dus is daar ʼn behoefte aan sulke stories.

Dit vertel die soms vreesaanjaende verhaal van ʼn doodgewone student (die aantreklike en charismatiese Dennis Heaton) wat sy ma se dood wil wreek. In die proses beland hy tussen ʼn groep uiteenlopende jonges waarvan elkeen ʼn donker geheim bewaar. Tieners (waarvan die meeste akteurs hopeloos te lank in die tand is om as skoolgaande kinders te oortuig) raak dan by donker dinge betrokke en besef dat, indien ʼn mens die makabere onderskat, jy ʼn duur prys daarvoor betaal.

Daarom sal aanhangers van die Harry Potter-rolprente en tienerrillers moontlik hiervan hou. Dit is ook al vergelyk met die TV-reeks True Blood. Die probleem is dat hierdie reeks en sy vervolg bloot na nabootsings van ander soortgelyke reekse lyk.

As jy regtig ʼn boeiende en selfs aangrypende reeks oor die bonatuurlike wil sien waarin Noorse mitologiese gode die lewe van gewone sterflinge op aarde kompliseer, kies liewer Netflix se Ragnarok. Alhoewel ook donker en spannend, is dit darem baie beter as The Order. Hierdie papierdun karakters en voorspelbare, dikwels uitgerekte tonele vermoei ʼn mens later. Op Netflix.

Ragnarok is ʼn baie beter opsie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.