Leon van Nierop se resensie: The Secret Life of Pets 2

The Secret Life of Pets 2     8/10    ****
Met die stemme van Patton Oswalt en Harrison Ford
Regisseurs: Chris Renaud en Jonathan del Val

Gehore maak deesdae hul rûens reguit. ʼn Hele kaboedel vervolge het misluk, van die klaaglike Men in Black: International tot X-Men: Dark Phoenix. Selfs Toy Story 4 het nie sulke uitbundige sukses by die loket bereik soos verwag is nie, alhoewel dit goed gedoen het. Sequelitis of vervolg-tamheid loer soos die doodsengel oor verskeie beplande projekte se skouers. Gehore, veral die wat verslaaf is aan Netflix, soek iets vars. Iets nuut.

Midde-in hierdie klein vulkaniese krisis swaai The Secret Life of Pets 2 sy stertjie. Of daardie uithang-tongetjie die loket gaan kielie, is ʼn goeie vraag. Maar miskien vind dié Brakanjan sy gehoor, want vir ʼn verandering is dit beter as sy voorganger!

In die eerste hondjie-of-die-halsbandjie-fliek het veral brakkies soos Max chaos tuis gesaai nadat sy eienaars werk toe is. Maar ʼn goeie idee het ʼn lelike slagyster op die sitkamermat gestel toe die idee gekelder is deur ʼn oormaat gillery, jaagtogte en skreeubekke sonder weerga.

Die vervolg stel die saak egter reg. Die troeteldiere word toegelaat om elkeen sy/haar eie persoonlikheid te openbaar met stewige storielyne en sterk-omlynde karakters.

Dié slag beland Max op ʼn plaas waar plaasdiere hom terroriseer. (Wat sal jy maak as ʼn blasende kalkoen op jou afstorm?) Hy probeer ook dom skape opvoed. Boonop beland Snowball en kie in ʼn sirkus wat diere, veral tiere, gevange hou en emosioneel mishandel. Hierdie twee stories vul mekaar netjies aan, sodat die doller-as-kop-af jaagtogte tot ʼn minimum beperk word, en die diertjies toegelaat word om te kommunikeer en ruimte gegun word om ʼn indruk te maak.

Dit is een van die min flieks waar Pa en Ma net soveel vreugde uit die diere-manewales kan put as die kinders. Dit is op albei gehore gerig. Daarom kan jy jou swaarverdiende geldjies gerus afknyp om weer deur Max die brak en sy vriende vermaak te word. Dit is nou properlie snaaks!

Die fliek wys tans by SterKinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cora Simpson ·

Die fliek is soo lekker om ssam met familie te kyk. Ons is almal oor 50 jaar en het dit gate uitgeniet. Die mense kan gerus gaan kyk. Dis 100% die moeite werd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.