Leon van Nierop se resensie: Top Gun: Maverick

Top Gun: Maverick ****
Met Tom Cruise en Jennifer Connelly
Regisseur: Joseph Kosinki

En daar vlieg die manne weer die uitspansel vol! Almal wat nou nog nie aarde toe gekom het na die oorweldigende 1986-Top Gun nie, kan weer aanmeld vir hul volgende adrenalien-inspuiting.

Hierdie buitensporig-vermaaklike rolprent vol tuimeltoertjies, sweterige lywe, sexy meisies, gevaarlike vegvliegtuie, kwaai bevelvoerders en wye oop ruimtes is in die kol. Jy sal jou hieraan vergaap veral in Imax-teaters. Onthou net, al kos ʼn kaartjie meer geld, moet dit in Imax gesien word, want jy is regtig in ʼn vliegtuig. (Daar is beklemtoon dat hier min spesiale effekte gebruik word indien enige. Alles wat jy sien is die ware Jakob!)

Tom Cruise speel weer die rol van Maverick (Pete Mitchell), maar met meer gesag en ʼn harder baard as tevore. Ook met meer insig en minder seuntjie-glimlaggies. Maar die dood van ʼn makker, en dié se seun wat steeds ʼn wraakgevoel koester, kniehalter byna hul sending. Hulle moet ʼn gevaarlike aanleg in ʼn doodsvallei vernietig, maar of hul vliegtuie die tog gaan maak, laat staan nog die vegters waaronder dapper vroue, word bevraagteken.

Jy val, jy rol, jy gil, jy vergaap jou, jy bewonder, en jy geniet die touch rugby wat op die strand gespeel word… dalk om die verkeerde redes. Maar manne is nog manne en die avonture meer onmoontlik en lewensgevaarlik as tevore. Gaan kyk en gly-val deur die ruimte in vegvliegtuie wat jou met klank en beeld oorweldig.

Sterk aanbeveel!

Die fliek is by Ster-Kinekor en NuMetro te sien.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

Sou Leon nie dink dat die supermag van die VSA se weermag al ‘n bietjie holrug gery is nie? Die kamera is ‘n wonderliks onskuldige misdadiger. Wat as Sjina of Rusland sulke flieks maak? Dan sal dit seker dadelik verbode wees.

Hennie Biebouw ·

Jy het die keuse om nié die fliek te gaan kyk nie. Net soos ek hoegenaamd nie sou belangstel om ‘n soortgelyke fliek komende uit Sjina of Rusland sou gaan kyk nie.

Terloops, as ek moet kies tussen ‘n lewe in die VSA of Kommunistiese Sjina, met al sy menseregte vergrype en mishandeling van sy burgers, dan kies ek die vrye Westerse wêreld. Ten spyte van al sy probleme, bly die Westerse beskawing steeds die enigste werklike “vrye wêreld”…

Snowball ·

Het elke oomblik terdeë geniet en nostalgies gehunker na die 80’s – my sorgvrye studentedae toe ek en die wederhelf nog net ‘gedate’ het en ons gereeld Cresta toe gepieker het vir ‘n ‘movie’. Top Gun was destyds ‘n treffer, nou soveel meer, want die plooitjies om ‘Maverick’ se oë is maar dieselfde as ons eie en die onuitwisbare optimisme van ‘do or die’ laat jou vergeet van die 30+ jaar wat verbygevlieg het sedert die eerste ‘highway to the Danger Zone’….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.