Luister: ‘Ander Mens’ propvol aksie met donker humor

Bennie Fourie vertolk die rol van Daniël Niemand. (Foto: Maroela Media)

Die langverwagte aksiekomedie Ander Mens begin Vrydag in rolprentteaters draai en dié rolprent belowe om kykers op die punte van hul stoele te laat sit.

Die rolprent, met Bennie Fourie en Marlee van der Merwe in die hoofrolle, vertel die verhaal van Daniël Niemand, ʼn passiewe rekeningkundige wat van een mislukking na die volgende voortbestaan. Wanneer Daniël agterkom dat sy vrou ʼn skelm verhouding met hul huweliksberader het, gaan hy om die huweliksberader te gaan regsien en dit is dán wanneer die probleme begin.

Daniël veroorsaak per ongeluk die huweliksberader se dood en sy baas, Frank (Frank Opperman), en dié se broer, Hansie (André Weideman), bied aan om Daniël te help om van die liggaam ontslae te raak. Dit is egter nie lank voor die polisie aan Daniël se deur klop en hom in hegtenis neem nie.

Ander Mens is ʼn vreemde kombinasie van aksie en komedie,” vertel Fourie in ʼn onderhoud met Maroela Media. “Dit is nie komedie soos ons dit in Suid-Afrika ken in die sin van lag elke minuut nie. Dit is meer van ongemaklike situasies. So jy lag definitief, daar is oomblikke van verligting. Maar dit is ʼn fyn balans tussen ernstig en snaaks. Dit is ʼn meer intelligente tipe humor, dit is nie slapstick nie.”

Buiten Fourie en Van der Merwe maak bekende name in die vermaakbedryf deel uit van die rolverdeling . Frank Opperman, James Borthwick, Laudo Liebenberg, André Weideman, Roeline Daneel, Jana Cilliers, Tim Theron, Clyde Berning en Lika Berning is almal in die fliek te sien.

Die regie van Ander Mens is behartig deur Quentin Krog, wat bekendheid verwerf het vir sy werk in lokettreffers soos Ballade vir ’n Enkeling, Vir die Voëls en Thys & Trix, asook televisiereekse soos Die Boekklub 1, Sterlopers 1, en Die Byl 2.

Fourie vertel dit was net ʼn plesier om met sulke ervare mense in die bedryf te werk. “Ek dink mense wonder altyd hoe is Frank regtig en hy is baie soos wat jy hom op die skerm sien. Hy is baie pret en mense wat al so lank in die bedryf is, kan maklik suur raak, maar hy is glad nie. Hy is net vol lewe, so dit is baie lekker om saam met hom te speel,” sê hy.

“En dan ouens soos James Borthwick is net briljant, Marlee van der Merwe is ongelooflik, Laudo Liebenberg is ook deel van die film. Ja, dit is net lekker!”

Fourie moes self op sy stukke wees om die karakter van Daniël te vertolk. Daniël se passiewe, byna patetiese leefwyse is so ver verwyderd van wie Fourie is, dat dié karakter beslis vir hom ʼn uitdaging ingehou het. Boonop moes Fourie ook 16 kg vir die rol optel om aan te pas by die futlose Daniël Niemand.

“Vir ʼn hoofkarakter om passief te wees, is nogal moeilik, want jy moet die storie dra, maar jou karakter neem nie groot besluite nie. Dit is nogal moeilik, want ʼn hoofkarakter moet gewoonlik aktief wees en dinge gebeur net met Daniël. Toe ek die teks lees, het ek onmiddellik gedink hierdie karakter frustreer my. Maar hy het ook ʼn hart en jy kan sien waardeur hy gaan en hoe hy sukkel en uiteindelik kom hy daardeur, en dan is dit lekker om te sien.”

“Ander Mens” begin op 23 Augustus 2019 in teaters draai.

Fourie is bekend vir talle reekse en rolprente, insluitend Vir die Voëls, Vuil Wasgoed, Sy klink soos Lente, en die kykNET-reeks Hotel. Hy meen Ander Mens verskil egter van enige iets wat hy ooit vantevore gedoen het.

“Ek kan dit amper beskryf as graderings van komedie,” verduidelik hy.

Vuil Wasgoed was ook ʼn donker komedie, maar dit is baie meer speels, waar hierdie baie meer ernstig is. So dit is bietjie van ʼn genre-skuif, dit was beslis iets nuuts.”

Fourie meen die geheim om nie te verval in ʼn ou uitgediende resep van filmmaak nie, lê opgesluit in die teks. “As jy iets ordentlik wil doen, wat uniek is, moet jy weet dit vat lank om daardie stereotipes in jou kop te breek. As jy ʼn komedie skryf en die rolprent word te vinnig gemaak, werk jy met ‘eerste idees’. Dit is daardie eerste gedagtes wat in jou kop opkom en dit is gewoonlik stereotipes. So hoe meer tyd jy vat om aan die teks te werk en dit vir mense te stuur om deur te werk en dit toe te laat om te ontwikkel, hoe meer kom jy met jou eie en unieke idees vorendag. Volgens my kort ons net meer tyd om individuele stemme te kweek.”

Fourie se raad aan fliekliefhebbers is om seker te maak dat hulle Ander Mens in die teater gaan kyk. “Baie flieks wat bekendgestel word, is nie noodwendig iets wat die grootskerm nodig het nie, maar Ander Mens het regtig ongelooflike spesiale effekte. Dit het ʼn klankbaan wat jy nodig het om in daardie kwaliteit klank te hoor. Hierdie is die tipe fliek wat regtig op die grootskerm gekyk moet word,” sê hy.

“Die fliek is bietjie rof, maar nie te erg nie! Enigiemand binne die ouderdomsbeperking sal dit geniet en mense gaan dit geniet om hierdie bekendes met wie jy grootgeword het in so ʼn interessante lig te sien.”

Ander Mens sal op Vrydag 23 Augustus in teaters landswyd begin draai. Kliek hier om die lys van rolprentteaters te sien waar die fliek vertoon sal word. Ander Mens het ‘n ouderdomsbeperking van 16.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.