Luister: ‘Vroue is moeg vir hoe hul uitgebeeld word’

Simoné Nortmann as Vivian (Foto: Suna Robberts)

In die splinternuwe avontuurfliek Stroomop leer ken ons vyf gebroke vroue wat mekaar tydens groepterapie ontmoet.

Daar is Lana (Donnalee Roberts), die perfeksionistiese en effe rebelse dokter wat verplig word om daar te wees; Adrie (Chanelle de Jager), die ma van drie wat wroeg oor haar gewig en begeerlikheid; Diona (Ilse Klink), wat haar hele lewe lank haar loopbaan voor haar dogter, Nixie (Carla Classen), se behoeftes gestel het en Vivian (Simoné Nortmann), ʼn valerige data-analis wat angstig en bang is vir die lewe.

Dié vyf vroue pak saam met ʼn riviergids, Guy (Armand Aucamp), die ontstuimige waters van die Oranjerivier aan en wanneer hulle in die moeilikheid beland en die gids verdwyn, moet die vroue hul verskille eenkant toe skuif om hulself, én Guy, lewend aan die ander kant uit te kry.

“Vivian is seker een van die lekkerste karakters wat ek al vertolk het,” vertel Nortmann in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Nortmann het as 7de Laner die aandag van die Suid-Afrikaanse publiek getrek en in 2016 het sy die hoofrol van Irma Humpel in die lokettreffer Vir die Voëls losgeslaan.

“Vivian is die off-beat komiese karakter, maar terselftertyd het sy ʼn baie seer verlede en kom sy uit gebroke omstandighede. Sy beland in avontuurterapie omdat sy selfmoord probeer pleeg het, wat skeef geloop het, want meeste goed in haar lewe loop skeef,” vertel Nortmann.

Simoné Nortmann as Vivian. (Foto: Suna Robberts)

“Sy sukkel met toewyding, sy is bekommerd oor alles en sy ly aan angs. Vivian is ook baie eensaam en word deur die liefde van haar lewe gelos vir ʼn ander vrou. Sy begin haarself dan met die ander vrou vergelyk en kleur dan haar hare rooi, want die nuwe flerrie se hare is rooi,” lag sy.

Die span van die rolprent, onder leiding van Ivan Botha in die regisseurstoel, het ongeveer vyf weke op die oewer van die Oranjerivier deurgebring. Daar moes hulle kampeer, hitte tot en met 46° trotseer en in 12 uur lange skofte verfilm.

“Ons het vir ʼn week en ʼn half al die stories wat afspeel voordat die vroue Oranjerivier toe gaan, in Johannesburg geskiet. Daarna is ons Oranjerivier toe, waar Under Canvas Events vir ons ʼn hele tentedorp met buitelugstorte gebou het. Daar was bittermin elektrisiteit en daar was nie regtig warm water nie, so jy moes water warm maak, maar dit was in elk geval só warm buite! Dit was een van die die moeilikste goed wat ek in my lewe moes gedoen het.

“Vir Ivan en Donnalee om hierdie produksie aan te pak onder die omstandighede by die Oranjerivier, is eenhonderd persent ʼn wonderwerk. Daar is min mense wat regtig só iets sou kon maak werk,” sê Nortmann beslis.

“Daar was net so ʼn salwing oor hulle om die projek daar te kon doen. Ek voel daar was min acting betrokke, want jy self gaan deur die woestyn en jy moet oorleef. So dit was ʼn innerlike reis, ook vir die akteurs en die res van die span.”

Nortmann sê die belangrikste tema wat die rolprent aanraak, is vergelyking. “Dit is iets waarmee vroue baie sukkel. Dis oral in tydskrifte en in die media. Ons vergelyk onsself met mekaar. Hoe moet ʼn ma lyk? Hoe moet ʼn ma wees? Hoe moet ʼn vrou haarself handhaaf? Hoe moet ek lyk of hoe moet ek wees om gekies te word deur iemand anders? Hoe hanteer ons verlies as ʼn ma en as ʼn dogter?

In ‘n toneel uit die fliek. (Foto: Verskaf)

“Ons plaas druk op onsself om perfek te wees. Die tema van Stroomop is om dit wat vrouwees is, uit te daag en te herbou in ons samelewing. Jy kan sterk wees, maar ook swak. Jy kan gehawend lyk, maar sterk wees aan die binnekant. Stroomop wys jou wat gebeur as ʼn vrou haar grootste vrese aanpak, wanneer sy rou en weerloos is en gestroop word van haar maskers.”

Volgens Nortmann glo sy die wêreld is op ʼn plek waar vroue moet sien wie hulle regtig is. “Ek dink vroue is moeg daarvoor om te sien hoe hulle uitgebeeld word. Selfs in aksieflieks soos The Avengers word die vroulike karakters steeds geseksualiseer. Stroomop gaan oor vroue wat rou en weerloos en vuil is, maar dit is wie ons is en ons is trots daarop. Dit is iets wat die wêreld nou moet sien. Vroue is besig om tot hulle eie reg te kom.”

Stroomop word op 9 Augustus in fliekteaters landswyd vrygestel. Stroomop, die roman, deur Adeline Radloff is ook by groot boekhandelaars en aanlyn beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Ellisras ·

En aan die einde van die rolprent word die DTI Dept of Trade and Industry bedank vir hul bydrae. Maw die belasting betaler. Ten minste gaan ‘n deel (baie klein deel) van ons belasting geld vir ‘n goeie doel.

Film ·

@Ellisras, nie noodwendig nie. n Bedanking vir n departement kan baie verskillende goed beteken, nie altyd NET geld nie. As jy my kan wys waar die belasting betaler n sent bygedra het tot die film, sal ek onverskoning vra, sonder dit, kry eers jou feite reg.

kas ·

Dit is die einste dame wat vir ou Sampie in “vir die voels al sy dae gegee het”DieEk het gehpp dame is ‘n uitstekende aktriese en ek glo darem nie sy is so ‘n heks in die regte lewe nie.Ek het gehoor sy en Sampie is inwerklikheid getroud.Is dit so

Casper Labuschagne ·

“Vroue moeg vir hoe hulle uitgebeeld word.”

Hmm?

Eerstens, in die plaaslike supermark is daar ‘n hoop glanstydskrifte gerig op vrouens met hope artikels oor hoe uniek vroue is, hoe vroue bokant stereotipes sal uitstyg en hoe vroue alles kan doen wat mans kan, net beter. En dan maak al daardie tydskrifte 100% staat op ‘n ekonomiese model dat al die lesers (vroue) presies soos ‘n trop skape sal reageer en die adverteerders se produkte aanskaf. Daardie beproefde reklameboodskappe is gerig op die eienskappe van om vrouens te wees, wat vrouens uniek maak en boonop werk dit elke keer. Interessant genoeg is mans feitlik immuun teen sulke reklame. Het biologie dalk iets hiermee te doen?

Tweedens, soek op Youtube na “Survivor, women vs men”. Verklaar biologie nie dalk iets van die penarie van die vroue daarso nie?

Waar die mens se voortbestaan vandag nie meer daagliks bedreig word deur die natuur nie, kan ons enige moontlike intellektuele konstruksie maak en ons lewens daarvolgens inrig. Maar ons biologie is gevorm deur honderde duisende jare se beproefde strategie om oorlewing en dit sal nie binnekort verander of verdwyn nie.

Antoinette O ·

Dan word die lied aan die einde deur ‘n man gesing. Die regie deur ‘n man gedoen. Die filmbedryf vir vroue het nog ‘n lang pad om te stap. Nie dat die regie en die lied nie uitstekend is nie… ons kan nog baie leer by mans… so dis eintlik goed. Tog merkwaardig die Kanadese lesbiese flim waar die hele span vrouens was. Maar ek sal ook nie die Oranje sonder mans aanpak nie. En tog, die vyf vrouens eindig toe alleen op en oorleef. (Ek hoop.) Klink eintlik ‘n wonderlike moewie. Elke mens is uniek, nie net elke vrou nie en swaarkry bring almal se ware karakters en sterkte uit. Soos die koor in daai film van die vrouens in ‘n konsentrasie kamp in WO2. Hulle het maar begin sing.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.