Nuwe James Bond-fliek, ‘Toorbos’ wink vir fliekgangers

Die plaaslike rolprentbedryf staan op die punt om sy bedrywighede te hervat nadat fliekteaters vir die afgelope vyf maande gesluit was weens afsonderingsregulasies wat met die Covid-19-pandemie verband hou.

Christopher Nolan se jongste rillerfliek Tenet, die geloofsrolprent Fatima en Ava, ʼn fliek oor ʼn sluipmoordenaar, is van die flieks wat eerskomende naweek uitgereik word. Die aksierolprent Mulan, Unhinged met Russell Crowe in die hoofrol en The King’s Man sal in September die silwerdoek tref.

Die jongste James Bond-fliek, No Time to Die, Marvel Studios se Black Widow en die rolprentverwerking van Dalene Matthee se Toorbos sal na verwagting later vanjaar in fliekteaters vertoon word.

Fliekgangers sal op 28 Augustus terugkeer wanneer uitgesoekte teaters, onder meer Ster-Kinekor en Nu Metro, landwyd hul deure oopmaak. Aanvanklik sal kykers toegang hê tot 32 van Ster-Kinekor se fliekteaters, gevolg deur die oorblywende 21 teaters wat op 18 September open.

‘Toorbos’ met Elani Dekker en Stiaan Smith.

Verskeie belanghebbendes in die bedryf het hande gevat en ʼn gesamentlike mediaveldtog van stapel gestuur om dié nuwe fase in te lei.

Die #GoBIGagain-veldtog bied breedvoerige inligting oor fliekteaters se gesondheid- en veiligheidsprotokolle, plaaslike en internasionale nuusgebeure, skakels na teatergroepe se webwerwe en rolprente wat vertoon word.

Die veldtog word deur lede van die Suid-Afrikaanse rolprentraad beskou as die hoogtepunt van ʼn verantwoordelike heropeningstrategie wat die afgelope paar maande deur verspreiders, verteenwoordigers en ander belanghebbendes saamgestel is.

“Ons is baie opgewonde oor die veldtog. Dit is ʼn gekoördineerde poging om die bedryf op effektiewe en nie-mededingende wyse ter heropen.”

Op grond van die huidige regeringsregulasies en advies van die departement van gesondheid, die Wêreldgesondheidsorganisasie en internasionaal erkende kundiges in die bedryf word die onderstaande gesondheid- en veiligheidsprotokolle geïmplementeer:

  • Fliekgangers word aangemoedig om aanlyn kaartjies te bespreek.
  • Die dra van ʼn masker is verpligtend vir alle fliekgangers en personeel. Kykers mag hul maskers tydens die vertoning afhaal wanneer hulle eet- of drinkgoed geniet.
  • Besoekers se temperatuur sal by alle toegangspunte geneem word.
  • Handreiniger is vrylik beskikbaar en daar sal van fliekgangers verwag word om eers hul hande te ontsmet voordat hulle in die teater toegelaat word. Verskeie kennisgewings by teaters moedig gereelde handontsmetting en ander voorsorgmaatreëls aan.
  • ʼn Afstand van ongeveer 1,5 meter moet ten alle tye tussen mense gehandhaaf word.
  • Toegangsbeheer en ʼn beperking op kaartjieverkope per vertoning word toegepas om te verseker dat fliekteaters aan maatreëls voldoen.
  • Alle teaters word voor en na elke vertonings deeglik skoongemaak en ontsmet.
  • Alle oppervlaktes en areas met ʼn hoë raakpunt soos kiosks, selfbedieningsterminale, bedieningsbanke, deurhandvatsels, relings, bankies, en badkamerareas sal daagliks ontsmet word.
  • Alle personeellede is opgelei om elke keer hul hande vir minstens 20 sekondes met water en seep te was.

Fliekgangers kan op hoogte bly deur die #GoBIGagain-veldtog op sosialemediaplatforms te volg of die webwerf te besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.