Die uiters gewilde Queen-fliek, Bohemian Rhapsody, het tydens die 91ste Oscar-toekenningseremonie, wat Sondagaand (plaaslike tyd) in die Dolby‑teater in Los Angeles gehou is, ʼn handjievol goue beeldjies ingepalm.
Rami Malek, wat die rol van die ikoniese sanger, Freddie Mercury, in dié rolprent vertolk, is met die beeldjie vir beste akteur vereer. Die fliek is ook met die toekennings vir beste klankredigering, beste rolprentredigering en beste klankvermenging huis toe.
Dit is Malek se eerste Oscar en ook die eerste keer wat hy vir die kategorie genomineer is. Hy het sy ma, wat Sondagaand in die gehoor was, bedank en het ook hulde gebring aan sy oorlede pa wat nooit die kans gehad het om te sien hoe hy ʼn wêreldbekende rolprentster word nie.
Die oorlewende lede van Queen het saam met die sanger Adam Lambert die toekenningseremonie geopen met die treffers “We Will Rock You” en “We Are the Champions”, as ʼn huldeblyk aan Mercury.
Olivia Colman het die beeldjie vir beste aktrise vir haar rol as koningin Anne in The Favourite weggeraap onder die neus van Glenn Close, wat glo ʼn gunsteling was om met dié beeldjie weg te stap en benoem is vir die fliek The Wife.
Colman het wel in haar bedankingstoespraak vir Close uitgesonder as iemand wat sy haar lewe lank nog bewonder. Sy het ook die regisseur van The Favourite, Yorgos Lanthimos, bedank, asook haar medesterre, Emma Stone en Rachel Weisz.
Colman het ook vir haar kinders dankie gesê en gesê sy hoop hulle kyk by die huis na die toekenningsgeleentheid. “Dit gaan nie weer gebeur nie,” het sy gesê.
Die regisseur van die Netflix-rolprent, Roma, is met die beeldjies vir beste regisseur en beste kinematografie vereer. Die fliek is ook aangewys as beste internasionale fliek.
Marvel Studios se Black Panther, wat geskiedenis gemaak het deur die eerste superheldfliek te wees wat benoem is vir beste fliek, is vereer met die beeldjies vir beste stelontwerp, beste kostuumontwerp en beste oorspronklike klankbaan.
“Shallow”, die liedjie wat fliekgangers se hartsnare geroer het in die fliek A Star is Born, met Lady Gaga en Bradley Cooper in die hoofrolle, het die beeldjie vir beste oorspronklike liedjie gewen.
Dit was die eerste keer in 30 jaar wat die Oscars-toekenningsgeleentheid nie ʼn aanbieder gehad het nie.
Die komediant en akteur Kevin Hart het in Desember verlede jaar aangekondig dat hy vanjaar se 91ste Oscars sou aanbied. ʼn Storm het egter intussen losgebars nadat ʼn reeks homofobiese twiets wat hy geplaas het, herontdek en weer op sosiale media versprei is. Hart het toe besluit om uit die rol as aanbieder te tree.
Hier is ʼn volledige lys van die wenners:
Beste fliek – Green Book
Beste regisseur – Alfonso Cuarón, Roma
Beste akteur – Rami Malek, Bohemian Rhapsody
Beste aktrise – Olivia Colman, The Favourite
Beste akteur in ʼn ondersteunende rol – Mahershala Ali, Green Book
Beste aktrise in ʼn ondersteunende rol – Regina King, If Beale Street Could Talk
Beste oorspronklike draaiboek – Green Book
Beste aangepaste draaiboek – BlackKklansman
Beste internasionale fliek – Roma
Beste tekenprent – Spider-Man: Into the Spider-Verse
Beste klankredigering – Bohemian Rhapsody
Beste visuele effekte – First Man
Beste fliekredigering – Bohemian Rhapsody
Beste tekenprent (kortfliek) – Bao
Beste aksiefliek (kortfliek) – Skin
Beste dokumentêre kortfliek – Period. End of Sentence.
Beste oorspronklike klankbaan – Black Panther
Beste oorspronklike liedjie – “Shallow” uit A Star is Born
Beste stelontwerp – Black Panther
Beste kinematografie – Alfonso Cùaron, Roma
Beste kostuumontwerp – Black Panther
Beste grimering en haarstilering – Vice
Beste dokumentêre fliek – Free Solo
Beste klankvermenging – Bohemian Rhapsody
Bron: The New York Times