Resensie: Reeks blaas nuwe lewe in bekende misdaadverhaal

LOVE AND DEATH      
⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐/10
Met Elizabeth Olsen en Jesse Plemons
Skrywer: David E. Kelley
Beperking: 16. Taal. Seks. Geweld.
(M-Net)

Dit wys jou net wat ʼn goeie draaiboek kan regkry. Hierdie oorbluffende ware verhaal is al tevore in die Disney+ -reeks, Candy, uitgebeeld, maar nie naastenby so oortuigend of genuanseerd nie.

Die voortreflike draaiboekskrywer, David E. Kelley, van Big Little Lies-faam het dit sodanig aangepas, dat ʼn bekende en berugte moord op ʼn verrassende nuwe en insiggewende manier uitgebeeld word.

Die spelers, veral Elizabeth Olsen as Candy en Jesse Plemons as haar minnaar, speel so goed dat die kyker se simpatie van bakboord na stuurboord gestuur word. Wie kan jy glo? En regverdig hierdie twee hoegenaamd jou simpatie?

Dit gaan oor twee doodgewone kerkmense wat in ʼn buite-egtelike verhouding betrokke was. Toe die verneukspul op die lappe kom, het dit tot skokkende wendings gelei, en uiteindelik moord. Wanneer dié moord in die hof beland, is daar twee verduidelikings. Watter een is waar? Wie het eintlik wie voor die moord aangeval?

Elizabeth Olsen in ‘Love and Death’. (Foto: IMDb)

Maak gereed vir ʼn storie wat jou gaan oorrompel. Hoe vromer, hoe ouliker, hoe gevaarliker en meer verraderlik is die protagoniste. Of het ʼn buite-egtelike verhouding sodanig hand uitgeruk, dat dit ʼn konserwatiewe gemeenskap uitmekaar laat spat het en ʼn vroom gemeenskap oopgevlek het?

Kyk self en besluit. Jy sal dikwels jou eie oë nie glo nie!

Nota: Kykers moet let op die ouderdomsperkings en waarskuwings, en daarvolgens besluit of hulle na ʼn reeks of rolprent wil kyk. Die waarskuwings word duidelik aangebring wanneer daar op die reeks se naam geklik word, of verskyn op rolprentplakkate, of bo regs op die TV-skerm. L kan ook laster suggereer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.