Video: Lokprent van Racheltjie de Beer-rolprent bekendgestel

Zonika de Vries vertolk die rol van Racheltjie de Beer (Foto: Verskaf)

Die storie van Racheltjie de Beer is ʼn legendariese verhaal van verlies, dapperheid, opoffering en onwrikbare liefde – die storie van ʼn 12-jarige kind wat haar eie lewe opgeoffer het sodat haar boetie kon bly lewe.

Dié aangrypende verhaal is meesterlik op die silwerskerm vasgevang in die rolprent Die verhaal van Racheltjie de Beer.

Die film is by die pas afgelope Silwerskermfees in Kampsbaai vir die eerste keer vertoon en het uiters positiewe reaksie ontlok. Boonop is Stian Bam, wat die rol vertolk van Herman de Beer, Racheltjie se pa, met ʼn Silwerskermtoekenning vir sy treffende vertolking vereer.

Stian Bam as Herman, pa van Racheltjie en Jamie. (Foto: Verskaf)

Chantel Carter het ook met ʼn Silwerskermtoekenning weggestap vir beste produksie-ontwerp vir Die verhaal van Racheltjie de Beer.

Die rol van Racheltjie word vertolk deur Zonika de Vries, terwyl Johannes Jordaan as Jamie sy heel eerste rol vertolk. Marius Weyers is te sien in die rol van George Lundt, en nog bekendes soos Sandra Prinsloo, Antoinette Louw en Beáte Opperman maak deel van die rolverdeling uit. Die rolprent se regie is deur Matthys Boshoff behartig.

Vyf jaar ná hulle ma, Marie, se dood bevind die De Beer-kinders, die 12-jarige Racheltjie en die vyfjarige Jamie, hulself op pad na die Goudvelde van die Witwatersrand saam met hul pa, Herman, wat ’n nuwe lewe daar wil begin. Dit is op hierdie reis na ʼn nuwe begin wat Racheltjie in ʼn oomblik van onselfsugtige dapperheid, geskiedenis verander.

“Die Verhaal van Racheltjie de Beer” sal in Oktober in teaters begin draai.

Eksklusiewe première vir Maroela Media lesers

Racheltjie de Beer
Prys: R130 pp
Waar: Nu Metro VIP Parkview (Garsfonteinweg)
Wanneer: Donderdag, 10 Oktober 2019
Tyd: 19:00 vir 19:45

Kom saam bioskoop toe! Maroela Media bied jou die geleentheid om saam met ons die première van die langverwagte “Racheltjie de Beer” te kom kyk. Dit gaan ʼn aand op die rooi tapyt wees wat jy nooit sal vergeet nie. Kom kuier saam met Maroela Media, die akteurs van “Racheltjie de Beer” (Stian Bam en Antoinette Louw) en ander Maroela-lesers. Daar is slegs 100 plekke beskikbaar vir die publiek, so jy moet vinnig spring om jou plek te bespreek.

Jou kaartjie na die eksklusiewe Maroela-première bied jou die geleentheid om saam met Maroela Media oor ʼn glasie wyn te kuier, saam peuselhappies te geniet voor die fliek begin, sowel as die geleentheid om ʼn foto saam met die akteurs te neem op die rooi tapyt.

Kry jou kaartjies hier.

Kom beleef die aksie eerstehands saam met Maroela Media op 10 Oktober 2019. Ons sien uit daarna om jou te ontmoet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cora Simpson ·

Al se mense dis net ‘n storie mis ek dit nie vir enige iets nie. Genoeg sneesdoekies en die hele familie uit vir ‘n aand. Dankie aan almal. Sal wag vir die Oosrand se beurt

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.