ʼn Beter paar op die verhoog as Sandra Prinsloo en Marius Weyers sal jy nie kry nie en hierdie jaar was teatergangers so bevoorreg om hulle in nie minder nie, as drie produksies te sien. Dit is die eerste keer in meer as 20 jaar wat hulle saam op die verhoog verskyn. Nou is hulle ook besig om saam aan ʼn rolprent te werk.
Weyers en Prinsloo het in 1980 in Jamie Uys se rolprent The Gods must be Crazy verskyn. Hulle was vir die eerste keer vanjaar saam met Wessel Pretorius en Greta Pieterse tydens die Woordfees in Stellenbosch in Wie’s bang vir Virginia Woolf te sien.
Tydens Aardklop het hulle gehore bekoor met hulle uitstekende spel in Vir Ewig en Altyd. Hulle het ook tydens die fees verskyn in die verwerking van Anton Tsjechof se Die Seemeeu.
Albei die Aardklop-verhoogstukke is tydens die fees bekroon: Vir Ewig en Altyd is as die gewildste produksie onder feesgangers aangewys en Christiaan Olwagen het die Beeld Aartvarkprys ontvang vir sy grensverskuiwende werk met Die Seemeeu.
Maroela Media het tydens die fees met Weyers en Prinsloo gesels oor dié twee produksies en hulle vertel ook van die opwindende projek waar hulle weer saam op die grootskerm te sien sal wees.