Sony Pictures het die vrystelling van ʼn rolprent oor die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong-un, gekanselleer ná dreigemente van kuberkrakers en verskeie teatergroepe se weiering om dit te vertoon.
BBC berig dat Sony reeds deurgeloop het onder kuberkrakers wat die publiek gedreig het om weg te bly van teaters waar die rolprent The Interview vertoon sou word. Die kuberkrakers, wat hulself Guardians of Peace noem, het sedert November duisende van Sony se e-posboodskappe onderskep en selfs data gesteel.
Talle teatergroepe in Amerika het intussen ook aangedui dat hulle vir eers nie die rolprent gaan uitsaai nie waarna Sony die vrystelling gekanselleer het.
Die rolprent handel oor ʼn fiktiewe komplot om Kim Jong-un te vermoor. Seth Rogen en James Franco vertolk die hoofrolle in die rolprent. Lees meer hier.