Gewilde Kaapse mark vier 11de bestaansjaar

Die Bay Harbour-mark (foto: verskaf)

Die immergewilde en geliefde Kaapse naweekmark, die Bay Harbour-mark, vier in Julie vanjaar 11 jaar van samesyn, inkopies, kos en goeie geselskap.

Die idee vir die mark het in September 2009 sy oorsprong gehad toe die destydse vreemdelinge, Paul Rutzen en Anthony Stroebel, mekaar toevallig raakgeloop het tydens ʼn besoek aan die ou Sea Harvest-visfabriek in Hangberg.

In daardie stadium was die gebou verlate en in ʼn ongure buurt geleë. Stroebel erken egter dat daar ʼn “energie” in die plek was wat niemand sou kon ignoreer nie.

“Jy kan maar sê dit is die heelal wat aan’t werk was,” het hy uitgebrei. “Ons het albei agtergekom dat die ruimte perfek sou werk as platform wat die gemeenskap en omgewing ʼn hupstoot kon gee. Terselfdertyd sou dit die lewenskragtigheid en kreatiwiteit van Kaapstad, spesifiek Houtbaai, vier.”

En so, op ʼn nat, winderige dag in Julie 2010, te midde van die sokkermalligheid wat in daardie stadium in die lug was, het die deure van die Bay Harbour-mark sy deure vir 3 000 besoekers oopgeswaai.

Die mark het onmiddellik ʼn unieke inkopie- en eet-ervaring geskep in ʼn atmosfeer wat vriendelik, lewendig, vermakerig en kenmerkend Suid-Afrikaans is.

“Ons doelwit was nog altyd om die mark ʼn gewaarborgde bestemming op die reisplan van Suid-Afrikaanse en internasionale toeriste te maak tydens hul besoek aan Kaapstad. Om nie eens te praat van die inkopie-uitstappie wat vir Kapenaars geskep word nie,” sê Fiona Lunt, finansiële en operasionele bestuurder van die Bay Harbour Market.

Een van die stalletjies by die mark (foto: verskaf)

As die eerste in sy soort in Kaapstad, het die mark ʼn groot invloed op die omgewing waar dit geleë is, gehad.

“In daardie stadium was die mark ʼn nuwe konsep wat dit duidelik gemaak het dat mense op soek was na ʼn unieke inkopie-, eet- en vermaakervaring – alles onder een dak,” verduidelik Lunt verder.

Die mense agter die mark is trots op die feit dat hulle oor die jare heen as ligtoring kon dien vir ander, soortgelyke markte.

Afgesien van die kuns, handwerk en heerlike kos van wêreldgehalte, het die mark ʼn bestemming in Kaapstad geword vir diegene wat op soek is na lekker, vermakerige geleenthede en lewendige musiek.

“Ons besoekers is mal oor wyn- en jenewer-proesessies en aande waar amateursangers hul talent ten toon kan kom stel.”

Lunt vertel ook van die mark se verbintenisse met gemeenskap- en niewinsgewende organisasies vir bewusmakingsgeleenthede soos dié wat gehou word tydens Oktober, die maand van bewusmaking van borskanker. Hulle het ook al ʼn paar skoonmaakgeleenthede van stapel gestuur en ondersteun plaaslike welsynsgeleenthede soos die Intle Kuns-jeugprogram se Reënboogwandelpad.

“Hierdie afgelope 11 jaar is moontlik gemaak deur ons gereelde en getroue besoekers. Dit het ons gewys waartoe ons in staat is wanneer ons mekaar ondersteun.”

Die getal besoekers wat al sedert die begin van die jaar die mark se drumpel deurgetrap het, dui op ʼn goeie en besige jaar wat vir die mark voorlê.

  • Vir meer inligting oor die mark, besoek hierdie webwerf.
  • Volg die Bay Harbour-mark se Facebook– en Instagram-bladsye hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.