Gids tot romantiese, sakpas Valentynsdag

(Foto: Element5 Digital/ Unsplash)

Valentynsdag is hier en dit het talle verliefdes, verloofdes en verlorenes weer aan die wonder oor hoe om hul liefde vir hul ander helfte op ʼn besonderse wyse te betoon.

Maroela Media het vir jou ʼn lys moontlike afspraakidees saamgestel sodat dié liefdesdag se uitdagings jou nie onderkry nie.

  1. Sakpas romantiese afspraakidees
  • Gaan op wandeltoer

Trek daardie stapskoene nader en gaan op ʼn wandeltoer. Niks soos vars lug, die natuur en jou geliefde om Valentynsdag vanjaar meer spesiaal as ooit te maak nie.

  • Skryf ’n liefdesbrief

Beleef die romanse en ʼn bietjie nostalgie sommer op een slag. Skryf vir die spesiale persoon in jou lewe ʼn behoorlike liefdesbrief. Dit kan dalk net die dag opkikker.

  • Ruil stokperdjies uit

Speel jy graag kitaar? Bou jou geliefde graag legkaarte? Neem twee ure uit jou dag en gebruik dit om ʼn bietjie meer te leer oor jou ander helfte se gunstelingstokperdjies.

  • Raak nostalgies en luister na musiek uit jou verlede

Nadat jy daardie liefdesbrief aanmekaar getimmer het, wandel deur die verlede deur na liedjies te luister waarna julle geluister het toe Kupido die eerste keer sy pyltjie kom skiet het.

  1. Vir die avontuurlustige paartjies
  • Speel toeris in jou tuisdorp

Jy hoef nie ver te ry om pret te hê nie. Gaan verken ʼn bietjie julle tuisdorp – daar is dalk net ʼn besienswaardigheid of twee wat julle nog nooit verken het nie.

  • Verras hom of haar met ’n skattejag

Bring ʼn bietjie aksie in die prentjie deur ʼn skattejag te hou. Steek ʼn sjokolade hier, ʼn beertjie daar weg.

  • Gaan na ’n wildreservaat vir die dag

Pak die versnaperinge, klim in die motor en besoek die naaste wildreservaat aan julle. Dit is belangrik om gehaltetyd saam deur te bring – en hoe kan jy dit beter doen as om saam die wilde diere aan te durf.

  • Woon ʼn mark in jou omgewing by

(Foto: Erik Gazi/ Unsplash)

ʼn Mark bied vir jou alles wat romanties is. As manlief die blomme vergeet het, kan hy daarvoor opmaak deur ietsie soets of moois by die mark aan te skaf. En moenie vergeet nie, die manne hou ook daarvan om bederf te word –daardie duur braaisout kan dalk net die ding wees wat sy hart vinniger laat klop.

  • Trek daardie ysskaatse aan en word weer kind by ʼn ysskaatsbaan naby jou

Gaan soek ʼn bietjie die koue in die warm somersdae deur ʼn ysskaatsbaan te besoek. Dit gee jou dalk net weer rede om die een aan jou sy se hand vas te hou.

  • Kry daardie litte aan die beweeg by ʼn trampolienpark naby jou

Indien ʼn romantiese aand nie in die boekies vir jou en jou geliefde is nie, kan julle altyd die litte ʼn bietjie los kry deur ʼn ding los te spring by ʼn plaaslike trampolienpark.

  1. Ons wil met Jan Tuisbly se karretjie ry
  • Hou ’n kaas-en‑wyn-aand

Hou julle lywe ʼn bietjie spoggerig deur ʼn duur bottel wyn aan te skaf, wat natuurlik heerlik by die wêreld se uitgesoekte kase pas.

  • Slaan iets nuuts in die kombuis aanmekaar

Wink daardie sjokoladebeskuitjie-resep die laaste paar maande vir julle? Is daar ʼn hoenderdis wat tog net te lekker lyk? Maak ʼn bietjie tyd vir mekaar deur daardie einste resepte saam te flans. Leer iets nuuts en leer dit terwyl jy hartstogtelik in die liefde van jou lewe se oë kyk.

  • Bestel kos en steek ’n kers aan

Is nie jy of die een langs jou ʼn sjef van formaat nie? Daar is natuurlik die opsie om iets heerliks te bestel, ʼn lekker reeks aan te sit, ʼn kers aan te steek en net rustig te verkeer.

  • Trek die springmielies nader en kyk ʼn lekker romantiese fliek tuis

Gepraat van televisie – kry die springmielies, koeldrank en versnaperings reg vir ʼn romantiese rolprent tuis.

  • Lag ʼn slag: kies ʼn lekker komedie of komediant om die lagspiere aan die werk te kry

Daar is talle eenmanvertonings op die verskeie stroomdienste beskikbaar – kies een en laat daardie lagspiere ʼn bietjie oefening kry.

  1. Gee haar ’n roos
  • Romantiese piekniek (selfs al is dit in jou agtertuin)

Pak vir jou en die liefling in jou lewe ʼn heerlike piekniekmandjie om die liefde weer aan die bloei te kry. Skink ʼn glasie borrelende vonkelwyn of jul gunsteling‑rooiwyn en geniet jou Valentynsdag in die natuur – en as dit reën, gooi maar die kombers op jou sitkamervloer en steek ʼn kersie aan.

  • Gaan terug in tyd en doen wat julle op jul eerste Valentynsdag saam gedoen het

Daardie eerste Valentynsdag saam is dalk so ver in die geskiedenis dat nie een van julle dit eers kan onthou nie, maar draai die klok ʼn bietjie terug en onthou opnuut waarom julle in die eerste plek verlief geraak het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.