Groot pret te wagte by Wonderliggiefees

Argieffoto (Foto: Svetlana / Pixabay)

Vanaf 30 Augustus tot 3 September 2023 hou ons groot makietie in Pretoria met tienduisende liggies, lewendige vermaak, ʼn verskeidenheid kosstalletjies, hope pret vir oud en jonk, en ʼn kunsmark met meer as 130 uitstallers.

NG Kerk Wonderpark nooi Donderdag, 31 Augustus om 09:00 almal bo 55 jaar. Kom kuier op Seniorburger-oggend lekker saam met ons om ʼn koppie koffie en heerlike eetgoed. Die nimlike akteur en sanger, Matt Stern, oftewel “Pastoor Dou Droel van Huis Lelieveld”, sorg vir vreugdevolle vermaak.

Dis heerlike lente op Vrydag, 1 September, en ons vier dit behoorlik by die Wonderliggiefees! Bring Vrydagaand jou gesin, bure, kollegas en jou dogter se kêrel! Die braaivleisvure gaan van vroeg reeds brand by stalletjies wat heerlike braaigeregte gaan verkoop. Daar is vars koffie, pannekoek, vetkoek, spookasem, basaarpoedings en selfs ʼn teetuin. Vanaf 17:00 word feesgangers vermaak deur die boeremusiek duo, Die Ventertjies en die jong energieke Afrikaanse sanger, Ruan van der Kuil.

Saterdag, 2 September om 10:00 het ons ʼn baie spesiale kinderoggend. Daar is poppekas, ʼn kinderplasie, springkastele en vele meer. Die bekende en gewilde RSG-omroeper, Christelle Webb-Joubert en haar man Henry Joubert, kom deel daarna hulle harte met ons. Christelle is gediagnoseer met ʼn oogtoestand wat veroorsaak dat sy stadig besig is om haar sig te verloor. Sy en haar man het ʼn seun met spesiale behoeftes. Die paartjie gesels openhartig met ouers van kinders wat dieselfde uitdagings ervaar. Christelle deel haar getuienis en Henry gesels met pappas van ʼn huishouding waar spesiale behoeftes is. Kom kuier en lag saam met jou kind, en kom geniet die feestelikheid wat die lente bring!

Saterdagaand tree rasperstem-sanger Neil Somers op, met Ruan Tennant wat die voorprogram doen. Die kunsmark en kosstalletjies bly oop tot laat!

Toegang na die feesterrein is slegs R5 per persoon. Vir toegang na die kunstenaarsoptredes, kan jy ons webwerf besoek by www.wonderliggiefees.co.za of kom loer in op ons Facebook-blad.

Die feesterrein is daagliks oop vanaf 09:00 tot 21:00. Parkeer gratis en veilig. Kom kuier saam met ons by Berglaan 1849, Amandasig, Pretoria-Noord.

Kontak ons gerus by 082 574 0543 of [email protected] vir meer inligting.

(Foto verskaf deur Wonderliggiefees)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.