Kom ons gaan kyk na Kersliggies

Om na Kersliggies te gaan kyk in die feesseisoen is sekerlik een van die lekkerste familietradisies vir oud en jonk in die feesseisoen. As jy gelukkig is, kan jy sommer in jou woonbuurt rondry en na die bure se uitstalling van vrolike Kersliggies kyk, en wat nou ook meestal deur sonkrag aangedryf word.

Maroela Media het ’n lys van plekke saamgestel waar jy ʼn fees van liggies sal vind:

Gauteng

Foto: Emperor’s Palace

Emperor’s Palace se liggietuin

Die Emperor’s Palace se liggietuin in Kempton Park naby OR Tambo internasionale lughawe staan reeds bekend as een van Gauteng se grootste liggievertonings en is weer ʼn ware skouspel vanjaar.

Bring die hele familie saam en kom stap deur die verligte tuin van die vyfsterhotel Peermont D’oreale Grande. Die jongspan kan ook hul gunsteling Kerskarakters ontmoet.

Die liggietuin sal daagliks van 19:00 tot 22:00 tot en met 5 Januarie oop wees mits die weer dit toelaat. Kaartjies beloop R25 per persoon met ʼn gesinspakket van R100 vir ʼn gesin van vyf mense. Kinders jonger as 2 jaar oud is gratis. Alle winste uit die liggietuin word aan liefdadigheid geskenk.

Besoek Emperor’s Palace se webwerf vir meer inligting of om ʼn besoek aan vanjaar se liggietuin te bespreek.

Die reusewiel by die Jakaranda Kinderhuis in Pretoria se jaarlikse liggiefees is net een van die hoogte punte van die fees. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

 Jakaranda Kinderhuis se Liggiefees

Dit is die beste liggiefees in die Jakarandastad en word tradisioneel jaarliks deur duisende mense besigtig.

Die Jakaranda Kinderhuis in East Lynn, Pretoria bied sedert 2010 in Desember jaarliks ʼn liggiefees aan wat van 1 tot 31 Desember strek. Die personeel, kinders en donateurs versier 21 huise en die terrein van die kinderhuis met duisende Kersliggies.

Dié terrein word dan oopgemaak vir die publiek om die fees van liggies gedurende die feestyd te kom besigtig. Daar word ook ʼn verskeidenheid van vermaak in dié tyd aangebied wat optredes van sangers en ʼn laservertoning insluit.

Besoek die Facebook-blad van die Jakaranda Kinderhuis se Liggiefees vir meer inligting of vanjaar se feesprogram.

Fees van liggies by die Johannesburgse dieretuin

Foto: Johannesburgse dieretuin.

Die Festival of Lights by die Johannesburgse dieretuin bied, onder meer, verligte, lewensgrootte dierekarakters, klassieke musiekoptredes en ʼn kos- en kunsvlytmark.

Besoekers kan rustig deur die dieretuin langs ʼn verligte paadjie weg van die diere stap om die liggies te sien. Dié LED-liggies is ook energiedoeltreffend.

Die Liggiefees word in samewerking met die Johannesburgse stadsraad, die Johannesburgse teater, Johannesburgse parkeraad en City Power aangebied.

Dit vind elke aand om 19:00 tot en met 31 Desember plaas en kaartjies kan deur Webtickets.co.za bespreek word.

KwaZulu-Natal

Kom geniet die Durbanse Botaniese Tuine se Trail of Lights van 12 tot 30 Desember. Foto: Durban Botaniese Tuine.

Durban se Botaniese Tuine

Die grootste en helderste vakansiebyeenkoms in KwaZulu-Natal word vanjaar vir die derde keer aangebied. Geniet die Durbanse Botaniese Tuine se Trail of Lights van 12 tot 30 Desember.

Die botaniese tuin het die roete uitgebrei en daar sal nuwe uitstallings wees met meer as ʼn miljoen liggies. Besoekers kan uitsien na vermaak, musiek, ʼn fees van aktiwiteite en ʼn mark.

Besoek www.trailoflights.co.za vir meer inligting.

Noordwes

Die tonnel van liggies is net die geskikte plek om foto’s te neem by die Abraham Kriel Kinderhuis in Potchefstroom se jaarlikse Liggiefees@Potch. Foto: Liggiefees@Potch.

Liggiefees@Potch

Duisende mense stroom reeds elke jaar na die Abraham Kriel Kinderhuis in Potchefstroom om die liggies by die Liggiefees@Potch te aanskou.

Die maand lange skouspel is een van die kinderhuis se grootste geldinsamelingsgeleenthede. Van die land se beste Afrikaanse sangers is elke aand op die verhoog te sien en daar is ook ʼn verskeidenheid vermaak vir oud en jonk tussen die mooiste liggies.

Kaartjies vir dié liggiefees kan deur Quicket.co.za aangekoop word.

Wes-Kaap

Kaapstad:

Daar is ʼn rede waarom Kaapstad al wêreldwyd soveel erkenning as ʼn internasionale reisbestemming ontvang het. Die Moederstad het vroeër vandeesmaand vir die vyftigste keer sy liggies vir die feesseisoen aangeskakel en die geleentheid is deur ʼn 100 000 feesgangers bygewoon.

Die tema vir die stad se liggies is Kaapstad: Venster op die Wêreld en weerspieël die diversiteit van die Kaap.

Adderleystraat se liggies sal aangeskakel bly tot einde Januarie wat inwoners en besoekers die geleentheid sal verskaf om dit te geniet.

Die publiek kan ook ʼn Rommel tot Kuns-ekspo besigtig wat tot 21 Desember by die Burgersentrum in Hertzog Boulevard in Kaapstad uitgestal sal word.

Die gewilde, jaarlikse Spier Light Art is terug en sal tot 19 Januarie 2020 aangebied word. Hier is die Kristal Vlerke in aksie. Foto: Verskaf.

Spier se ligkuns

Die gewilde, jaarlikse Spier Light Art is terug en sal tot 19 Januarie 2020 aangebied word. Elke aand sal besoekers getrakteer word met ʼn asemrowende vertoning van lig en klank by die geskiedkundige Stellenbosse landgoed.

Altesaam 21 uiteenlopende kunswerke sal oor die hele Spier-landgoed versprei wees tot 19 Januarie 2020. Sommige is speels en interaktief, terwyl ander skerp bespiegeling ontlok. Die installasies sluit in:

Die jellievis by die Spier Light Art. Foto: Verskaf.

  • Lyall Sprong se Bergson’s Misting Circle – ’n vertikale sirkel van 4 meter van lig en mis
  • Goldendean se Breathe Goldendean – ’n interaktiewe, opblaas-beeldhouwerk wat mens toelaat om daarop te lê terwyl dit sag rondom jou gloei en “asemhaal”
  • David Brits se reusagtige, gloeiende vorm van 70 meter wat hoog uit een van die oudste eikebome op die Spier-werf hang
  • Themba Stewart en Qondiswa James se skerpsinnige en diepgaande Keep the Lights On wat ons daaraan herinner dat lig in die alledaagse ’n sosio-politieke aangeleentheid is wat nie as vanselfsprekend aanvaar moet word nie

Spier Light Art is gratis en gaste kan die landgoed se 21 ligkunsuitstallings op hul tyd verken. Die beste tyd om aanskakel van die ligte te ervaar, is as die son sak. Maak ook sommer seker om vooraf aandete of ’n sonsondergang-Apiekniek te bespreek. Besoek Spier.co.za vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.