‘Onderwater-restaurant’ vir twee dae in Kaapstad

Die Twee Oseane-akwarium se Deep Blue Dinners is die perfekte geleentheid vir ‘n romantiese ete (Foto: Twee Oseane-akwarium)

Die Twee Oseane-akwarium in Kaapstad bied vir twee dae ʼn geleentheid aan waar jy ʼn heerlike driegang-aandete met die ongelooflike seelewe as agtergrond kan geniet.

Die Deep Blue Dinners sal saam met die I&J Ocean Exhibit op Vrydag 29 Januarie en Saterdag 30 Januarie by die Twee Oseane-akwarium by die V&A Waterfront plaasvind.

Die I&J Ocean Exhibit sluit ’n indrukwekkende glastonnel en -venster in waardeur ʼn verskeidenheid van visse, seeskilpaaie en ander seelewe in 1,6 miljoen liter seewater gesien kan word. Pikkewyne, haaie, seeperdjies, jellievisse en baie ander diere is ook by dié bekende akwarium te sien.

“Daar is niks beter as om ʼn wonderlike maaltyd te geniet met die magiese onderwater-wêreld as agtergrond nie. Met maaltye wat vars voorberei word en die lewende seelewe sal jy ʼn aand hê wat jou sal bybly by Kaapstad se enigste ‘onderwater restaurant’,” sê die akwarium in ʼn verklaring.

Volgens die akwarium word streng aan Covid-19-regulasies voldoen en is die nodige higiëne-protokol ingestel. Om die rede is beperkte sitplek beskikbaar vir die geleentheid.

Kaartjies vir die Deep Blue Dinner is by Quickets beskikbaar en kos R500 elk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.