Vrolike Afrikitifees binnekort by ATKV Buffelspoort aangebied

Afrikiti-fees by ATKV Buffelspoort

Feeskatte kan solank regmaak vir die tweede Afrikitifees wat dié jaar op 9 September by die ATKV Buffelspoort aangebied word.

Volgens Reyno Wepener, feesorganiseerder en ATKV bemarkingsbestuurder van Buffelspoort, gaan hierdie jaar se fees selfs nog meer plesierig wees as die vorige een. Toutrek, jukskei, toneel, dans, sweepslaan, musiek, watertandkos om van te kies en keur, draadkardemonstrasies, boogskiet en hond- en slangvertonings is maar net ʼn paar van die hoogtepunte op die feesprogram. “Eintlik is elke item op die program ʼn hoogtepunt. Met die slagspreuk, Jou taal-en kultuurfees, spreek Afrikitifees elke aspek van taal-en kultuur aan. Ons sluit geen komponent van ons Afrikaanse kultuur uit nie,” sê Reyno.

“Avontuur, kunste, toneel, sport, dit wat jy drink en eet… dit is kultuur in sy geheel wat ons op die fees aanspreek. Dit is ʼn gemeenskapfees. Wat ons doen is om vir ons gemeenskap te sê kom kyk na die talent uit jou midde en kom deel daarin.”

Vir motor-entoesiaste sal daar ʼn saamtrek wees van ou klassieke motors en Harley Davidsons, motor- en karavaan agentskappe. Sepie-aanhangers kan ook uitsien na vertonings deur hul gunstelingakteurs uit Binnelanders en Diepe waters.

Reyno sê Afrikiti se suksesresep is dat dit by Buffelspoort aangebied word waar daar op dié naweek reeds 2 200 besoekers sal wees wat deur ringbal, jukskei, toutrek en boogskiettoernooie gelok word. “Dit is buiten die voete wat die fees self lok,” sê hy.

Dié jaar is die kosstalletjies die plaaslike kerke se verantwoordelikheid en word daar op dié manier ook teruggeploeg in die gemeenskappe wat deur die kerke gedien word. Daar is ook aanbiedings deur die bekende kykNET-kostowenaar Herman Lensing en Vaatjie van Toks en Tjops maak ook ʼn draai.

“Ons het ook ʼn opvoedingselement op die program gevoeg. Só sal daar slangvertonings wees om mense op te voed oor slange en hoe om slange te identifiseer en nie sommer voor die voet dood te maak nie. Die DBV bied hondevertonings aan en ook praatjies oor hondeversorging. Dalk kan jy selfs ʼn vierpootvriend aanneem,” sê Reyno.

“Feeste soos dié is geweldig belangrik vir die gemeenskap waarin dit aangebied word om Afrikaans en sy kultuur aan die gang te hou. Dit is ʼn platform in ons area om skole en kerke betrokke te maak en ʼn platform te gee om te spog met hul talent.”

“Ons doel is om Afrikiti nie net vir Afrikaanse mense te hou nie. Daarom betrek ons ook ander gemeenskappe om saam fees te vier. My filosofie is hou jou kultuur vir jouself en jy verloor dit. Deel jou kultuur, en dit bly behoue.”

Ingangsfooi na vanjaar se fees beloop R80 vir volwassenes en hoërskoolleerders, R50 vir laerskoolleerders en kinders onder 7 jaar gaan gratis in. As deel van jou ingangsfooi moet jy ʼn blikkie honde- of katkos saambring.

Besoek gerus die webblad by www.buffelspoort.co.za/afrikitifees vir meer inligting en die volledige program.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.