Hoe lyk Hollywood: John Cena trou; ‘Les Misérables’-liriekskrywer (95) sterf

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

John Cena trou

Shay Shariatzadeh en John Cena is vandeesweek getroud. (Foto: Instagram)

Die Amerikaanse rofstoeier John Cena (43) is Maandag tydens ʼn private seremonie met sy meisie van die afgelope twee jaar, Shay Shariatzadeh (31), getroud.

E! News het bevestig die Blockers-akteur en sy Kanadese meisie het in Florida, VSA, ewige trou aan mekaar beloof.

Cena en Shariatzadeh het in 2018 op die stel van Playing with fire ontmoet. Hulle verhouding het in Maart verlede jaar aan die lig gekom toe die twee gewaar is tydens ʼn uitstappie in Vancouver. Dit is ook Shariatzadeh se tuisstad.

Dit is Cena se tweede huwelik. Hy was van 2009 tot 2012 getroud met Elizabeth Huberdeau en was daarna ses jaar lank in ʼn verhouding met die WWE-rofstoeier Nikki Bella. Hulle verlowing is in 2018 verbreek. Bella het onlangs geboorte gegee aan haar en die danser Artem Chigvintsev se babaseuntjie, Matteo.

Les Misérables-liriekskrywer (95) sterf

Herbert Kretzmer. (Foto: Instagram via @martinjamesburton)

Die liriekskrywer en joernalis Herbert Kretzmer, alombekend vir sy Engelse verwerking van die musiekblyspel Les Misérables, is in die ouderdom van 95 oorlede.

Die Suid-Afrikaans gebore Engelse skrywer het ook die liriek vir die 1960’s-liedjie “Goodness Gracious Me”, wat deur Peter Sellers en Sophia Loren bekend gemaak is, geskryf. Hy het ook aan die Franse sanger Charles Aznavour se 1974-treffer “She” help skryf.

Die bekroonde liriekskrywer sir Tim Rice het Kretzmer beskryf as “’n reus in sy bedryf”. Sir Cameron Mackintosh, vervaardiger van Les Misérables, het gesê die nuus is “ongelooflik hartseer”.

“Sy wonderlike woorde vir Les Misérables sal vir altyd voortleef ter nagedagtenis aan hom.”

Kretzmer het as joernalis die pos as senior dramakritikus by die Daily Express beklee en het later televisiekritiek vir die Daily Mail geskryf.

Alanis Morissette-musiekblyspel vir talle Tony’s benoem

Alanis Morissette, (middel) op 5 Desember 2019 tydens “Jagged Little Pill” se openingsaand op Broadway in die Broadhurst-teater. (Foto: Greg Allen/Invision/AP)

Jagged Little Pill, die musiekblyspel-verwerking van die Kanadese sangeres Alanis Morissette se gewilde 1995-album met dieselfde titel, is die top-benoemde produksie vir vanjaar se 74ste jaarlikse Tony-toekennings.

Die musiekblyspel is vir 15 toekennings benoem. Moulin Rouge! The Musical en Tina – The Tina Turner Musical is ook in die kategorie vir beste musiekblyspel benoem.

“Dankie aan ons ongelooflike rolverdeling, orkes en kreatiewe span dat julle altyd met julle harte lei en dat julle elke greintjie menslikheid omarm. Alle eer kom julle toe,” het die vervaardigers van Jagged Little Pill op Twitter gesê.

Die Tony-toekennings vereer jaarliks produksies wat op Broadway in New York verskyn het. Weens die Covid-19-pandemie is alle teaters in die VSA op 12 Maart vanjaar gesluit en het slegs 18 Broadway-produksies voor 19 Februarie geopen en sodoende in aanmerking gekom vir die toekennings. Verlede jaar het 34 produksies die toekenningsgeleentheid gehaal.

Die bekende Hollywood-akteur Jake Gyllenhaal is benoem in die kategorie vir beste akteur in ʼn verhoogstuk vir sy rol in Sea Wall/A Life. Die aktrises Laura Linney (vir My name is Lucy Barton) en Mary-Louise Parker (vir The sound inside) is onder meer benoem in die kategorie vir beste aktrise in ʼn verhoogstuk.

Die toekenningsgeleentheid sal vanjaar virtueel via CBS uitgesaai word. Die uitsaaidatum is nog nie bekend gemaak nie.

Hier is ʼn volledige lys van benoemdes.

Bronne: E! News, BBC Entertainment, Daily Mail

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.