Hoe lyk Hollywood: Clooneys skenk geld ná Beiroet-ontploffing; Timberlake word weer pa

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Clooney-paar skenk geld ná Beiroet-ontploffing

George en Amal Clooney. (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

Amal en George Clooney het $100 000 aan Libanese liefdadigheidsorganisasies geskenk ná ʼn massiewe ontploffing in die Beiroet-hawe Dinsdag dié land tot stilstand geruk het.

Verteenwoordigers vir die egpaar, wat in 2014 getroud is en die ouers van ʼn driejarige tweeling is, het die skenking bevestig.

Amal (42), ʼn wêreldbekende advokaat, is in Beiroet gebore en het in Brittanje grootgeword nadat haar familie tydens die burgeroorlog uit Libanon gevlug het.

“Ons is albei diep bekommerd oor die mense van Beiroet en die verwoesting wat hulle die afgelope paar dae in die gesig staar,” het Amal en George gedeel.

Salma Hayek. (Foto: AP Photo/Michael Sohn)

“Drie liefdadigheidsorganisasies wat volgens ons bevinding noodsaaklike verligting op die toneel verskaf, is die Libanese Rooikruis, Impact Libanon en Baytna Baytak. Ons sal $100 000 aan dié organisasies skenk in die hoop dat ander ook op enige moontlike manier sal help.”

Hoewel daar nog onsekerheid bestaan oor hoe die ontploffing presies gebeur het, het ondersoekers intussen bevind dat 2 750 ton ammoniumnitraat ontplof het. Dit is ʼn hoogs plofbare chemikalie, wat in kunsmisstowwe gebruik word. Die chemikalie is glo ses jaar lank by die betrokke pakhuis in die dokke gestoor. Dít nadat dit in 2014 op ʼn vragskip gevind en daarop beslag gelê is.

Intussen het medelye van bekendes vir die mense van Beiroet ingestroom.

Adriana Lima. (Foto: Instagram/@adrianalima)

“Vandag het ʼn ontploffing die hoofstad van die reeds bloeiende Libanon verwoes. My gebroke hart gaan uit aan al die mense wat geliefdes verloor het en wat in die geraakte gebiede van my geliefde Beiroet is,” het die Meksikaanse aktrise Salma Hayek gesê. Hayek se pa, Sami Hayek Domínguez, is van Libanese herkoms.

“My hart bloei oor alles wat tans in die wêreld aangaan en ek wens ek het die mag gehad om elke liewe mens te herenig en te beskerm,” het Adriana Lima, die Brasiliaanse Victoria’s Secret-model, gesê.

“Wanneer kry dit end? Hoe ver sal dit gaan? Ek sal elke dag bid vir vrede, veiligheid en gesondheid. Ek weet net dat die wêreld vanjaar al te veel deurgemaak het. My hart gaan uit aan al die families.”

Justin Timberlake word weer pa

Justin Timberlake en sy vrou, Jessica Biel. (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

Die sanger en akteur Justin Timberlake en sy vrou, die aktrise Jessica Biel, het stilletjies onlangs vir die tweede keer ouers geword.

Timberlake se vriend, Brian McKnight, het die nuus in ʼn onderhoud met Hollywood Life bevestig. The Daily Mail het ook berig die egpaar, wat reeds ʼn vyfjarige seuntjie genaamd Silas het, is weer ʼn seuntjie ryker.

Die egpaar het egter nog nie self die geboorte van hul tweede seun in die openbaar bekend gemaak nie.

Die Bella-susters het dié foto gedeel toe hulle swanger was. (Foto: Instagram/@thebriebella)

Intussen het die uitgetrede WWE-superstersusters, Nikki en Brie Bella, albei die lewe geskenk aan ʼn babaseun – slegs ʼn dag uitmekaar. Dié tweelingsusters het in Januarie vanjaar aangekondig dat hulle albei swanger is.

Dit is Nikki, wie se regte naam Stephanie Nicole Garcia-Colace is, en haar verloofde, Artem Chigvintsev, se eersteling. Nikki het Chigvintsev ontmoet toe hy haar dansmaat op die program Dancing with the Stars was.

Haar suster, Brie, wie se regte naam Brianna Monique Danielson is, het ook ʼn tweejarige dogtertjie saam met die WWE-rofstoeier Daniel Bryan. Hulle is in 2014 getroud.

Nuwe Twilight-boek nou beskikbaar

Stephenie Meyer, skrywer van die wêreldbekende Twilight-boekereeks, se nuwe roman in dié wêreldberoemde reeks het Dinsdag die lig gesien. Die nuwe boek is getiteld Midnight Sun.

Stephenie Meyer. (Foto: Instagram)

Dit is bykans ʼn dekade nadat die oorspronklike storie afgesluit is. Die bonatuurlike reeks volg die romanse tussen die vampier Edward Cullen en Bella Swan. In teenstelling met die vorige boeke wat uit Bella se oogpunt geskryf is, vertel die nuwe boek die verhaal uit Edward se oogpunt.

Sedert die eerste boek in 2005 uitgereik is, het die reeks miljoene aanhangers wêreldwyd aangegryp en is vyf rolprente, met Robert Pattinson en Kristin Stewart in die hoofrolle, gemaak.

Die uitgewer het aangekondig dat 750 000 harde-, grootdruk-, e-boek- en oudioboek-eksemplare beskikbaar sal wees.

Bronne: E! News, Elle.com, The Daily Mail

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.