Hoe lyk Hollywood: Internet gons oor Musk-baba; nuwe ‘Twilight’-boek op pad

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Internet gons oor Musk-baba se ongewone naam

Elon Musk en sy pasgebore seun, X Æ A-12 Musk. (Foto: Twitter)

Elon Musk, onder andere medestigter van Tesla, en sy Kanadese meisie, die musikant Grimes, het die internet aan die gons nadat dit aan die lig gekom het dat hul pasgebore babaseuntjie X Æ A-12 Musk heet.

Die babaseun is Maandag gebore. Grimes (32) het op Twitter ʼn ingewikkelde uiteensetting vir die betekenis van die naam gegee, en ʼn mens spreek die naam as “X Ash Archangel” uit.

Musk (48) het op sy sosiale media gesê mamma en baba vaar albei goed. Dit is Grimes (wie se regte naam Claire Elise Boucher is) en Musk se eersteling saam. Musk het vyf seuns, ʼn tweeling en ʼn drieling, saam met sy eerste vrou, die skrywer Justine Wilson. Musk en Wilson se eerste seun het op 10 weke aan wiegiedood gesterf.

Adele se drastiese gewigsverlies verras aanhangers

Adele wys haar skraler lyf. (Foto: Instagram)

Die Britse sangeres Adele het vandeesweek haar aanhangers verras met ʼn foto ter viering van haar 32ste verjaarsdag op haar sosiale media waarin dit blyk dat sy aansienlik gewig verloor het.

Die Hello-sangeres het sowat vyf maande uit die kollig gebly ná haar egskeiding met die sakeman Simon Konecki.

Sy het haar aanhangers bedank vir al die verjaarsdagboodskappe wat sy ontvang het. “Ek hoop julle bly almal veilig en by jul volle verstand gedurende hierdie mal tye,” het sy by die foto geskryf.

“Ek wil ook graag dankie sê aan al die noodsaaklike werkers wat hul lewe op die spel plaas om ons te beveilig. Julle is werklik engele.”

Nuwe Twilight-boek eersdaags op die rakke

Stephenie Meyer. (Foto: Instagram)

Stephenie Meyer, skrywer van die wêreldbekende Twilight-boekereeks, het Maandag aangekondig dat ʼn nuwe roman in dié reeks op 4 Augustus vanjaar die lig gaan sien. Die nuwe boek is getiteld Midnight Sun.

Dit is bykans ʼn dekade nadat die oorspronklike storie afgesluit is. Die bonatuurlike reeks volg die romanse tussen die vampier Edward Cullen en Bella Swan. In teenstelling met die vorige boeke wat uit Bella se oogpunt geskryf is, vertel die nuwe boek die verhaal uit Edward se oogpunt.

Sedert die eerste boek in 2005 uitgereik is, het die reeks miljoene aanhangers wêreldwyd aangegryp en is vyf rolprente, met Robert Pattinson en Kristin Stewart in die hoofrolle, gemaak.

Die uitgewer het aangekondig dat 750 000 harde-, grootdruk-, e-boek- en oudioboek-eksemplare beskikbaar sal wees.

Bronne: New York Times, E! News, BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.