Konsertgids: Anton Goosen, Deon Meyer dié naweek te sien

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die inperkingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van die koronavirus (Covid-19) te bekamp.

Konsertgangers kan egter nou ook weer afsit na die naaste teater of konsert-venue vir aanbiedings deur hul gunsteling-kunstenaars.

Maroela Media het ʼn konsertgids saamgestel van konserte waarmee musiekliefhebbers kan ontspan.

Saterdag 7 November

Die Gautengse Internasionale Kunstefees se Hazel-kos-, kuns- en kultuurmark heropen hierdie naweek by die Phobians Atletiekklub in Lynnwood, Pretoria.

Streng Covid-19-protokol sal gevolg word tydens hierdie geleentheid.

Vir meer inligting skakel 067 415 3365 of stuur ʼn e-pos na [email protected].

Sondag 8 November

Anton Goosen het besluit om sy Anton en Vrinne-vertonings aanlyn te laat herleef met sy program Kaggelkuiers met Anton en Vrinne – elke Sondag om 15:00.

Hierdie naweek kuier hy saam met die bekroonde skrywer Deon Meyer en die musikant en akteur Richard van der Westhuizen.

Jaco van Dyk is Kaggelkuiers se tegniese ghoeroe en sorg vir groot pret en lekker gesels elke week.

Kaggelkuiers is beskikbaar op Anton Goosen se Facebook-bladsy asook op YouTube en Jaco van Dyk se Woes-platforms. Die programme is gratis om te kyk, maar daar is geleentheid vir kykers om ʼn skenking te maak.

Kuns en klank – kom kry ʼn stukkie kultuur!

Van die beste Afrikaanse musikante op een verhoog tydens Maroela Media se aand van Kuns en klank is net die medisyne wat jy nodig het!

Kom verlustig jou in die kunswerk van Lidi de Waal en Anna Davel voordat Jannie Moolman, Leon Gropp, Saarkie, Lizanne Barnard en Anna Davel ons met hul musiek gaan bekoor. Die nimlike Lizz Meiring is ons gasvrou vir die aand.

Bespreek sommer dadelik jou sitplek vir Kuns en klank op 14 November 2020 by die Atterbury-teater in Pretoria. Die deure maak om 18:00 oop vir die kunsuitstalling en die vertoning begin om 19:00. Die vertoning is 90 minute lank. Kaartjies kos R195 per persoon.

Opskud, daar is slegs enkele kaartjies beskikbaar omdat ons te alle tye aan Covid-19-regulasies sal voldoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.