Konsertgids: Bernice West, Die Heuwels, Steve en Juanita dié week te sien

Luna Paige.

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die inperkingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van die koronavirus (Covid-19) te bekamp.

Konsertgangers kan egter nou ook weer afsit na die naaste teater of konsertvenue vir aanbiedings deur hul gunstelingkunstenaars.

Maroela Media het ʼn gids saamgestel van konserte waarmee musiekliefhebbers kan ontspan.

Vrydag 11 Desember

Vrydag is die komediante Al Prodges, Long John, Eureka Nkese en Alfred Adriaan by Carnival City se Comedy Club te sien.

Adriaan was onlangs in Casper de Vries se sketskomedieprogram Cas oppie kassie en die nuusprogram Die ware naarheid op kykNET te sien.

Kaartjies kos R50 en is hier beskikbaar.

Saterdag 12 Desember

Die sangeres Luna Paige reis vandeesmaand vanuit Stellenbosch al langs die kus om haar musiek en lirieke met aanhangers te deel. Ná die lang inperking weens die Covid-19-pandemie is daar vele nuwe liedjies wat sy met gehore wil deel voordat sy in 2021 aan haar nuwe album begin werk.

Paige se musiek word in Afrikaans en Engels aangebied. Sy skep met haar lirieke ʼn veilige hawe vir almal waarbinne hulle hul gedagtegang kan loslaat en verken.

Paige is Saterdag te sien by die Hangklip Hotel in Pringlebaai om 20:30. Kaartjies kos R100 en is beskikbaar by 060 692 2963 of 028 273 8310.

Sondag 13 Desember

Die Heuwels Fantasties. (Foto: Schalk Hanekom)

Die Heuwels Fantasties is Sondag by Dozi’s Back to the Roots in Hartbeespoort te sien. Die groep het pas ʼn splinternuwe album, Herverbeel, uitgereik. Dié album bevat verwerkings van bekende Die Heuwels-treffers wat elkeen ʼn nuwe baadjie kry saam met bekendes in die bedryf soos Tarryn Lamb, Tresor en TJ Terblanche.

Kaartjies kos R130 en is hier beskikbaar.

Die Aardklop Nasionale Kunstefees en die Afrikaanse Hoër Seunskool deel ʼn liefde vir Afrikaans en vat hulle nou hande om die kunste, en meer spesifiek klassieke musiek, ʼn nuwe tuiste in die Jakarandastad te gee.

Die eerste Aardklop Aubade-konsert waarna Pretorianers kan uitsien is Carols & Chords. Charl du Plessis (pianis), Lizelle le Roux (viool) en Ockie Vermeulen (orrel) lei die Kersseisoen gepas in met ʼn keur van Kersmusiek van die afgelope 300 jaar. Gunstelingmelodieë soos “Stille Nag”, “Somerkersfees” en “Bethlehem Ster” sal deel van die repertoire uitmaak.

Die konsert begin om 11:00 by die Afrikaanse Hoër Seunsskool. Kaartjies kos R150 vir volwassenes en R120 vir pensionarisse en is hier beskikbaar.

Woensdag 16 Desember

Die Pretoriase venue @The Beach skop op dié vakansiedag die feestyd af met ʼn strandpartytjie en konsert deur Refentse, Bernice West en William Wolf.

Geen toeskouers jonger as 18 word toegelaat nie. Kaartjies kos R150 en is hier beskikbaar. Slegs 450 kaartjies is beskikbaar.

Twee van die land se bekendste sangers en hulle gesinne kom byeen om ʼn virtuele Geloftedag vir die boere aan te bied.

Steve Hofmeyr en sy seun Armand Hofmeyr en Juanita du Plessis en haar twee kinders, Franja du Plessis en Ruan Josh, sal regstreeks vanuit die Heartfelt Arena in Pretoria te sien wees. Jay du Plessis en Bok van Blerk sluit ook by dié twee geliefde Afrikaanse gesinne aan.

Die program skop om 12:00 af met dr. Etienne Marais met sy Geloftedag-boodskap waarna die geliefde kunstenaars die verhoog sal betree. Die program sal 18:00 eindig.

Kaartjies na die aanlyn konsert is gratis, maar skenkings is welkom. Alle geld wat deur die konsert ingesamel word, word aangewend vir droogtehulp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.