Lizz Meiring se groot hart vir die Teaterbystandfonds

Lizz Meiring deur Piers Braybrooke

Die toneel is die TBF (Teaterbystandfonds) se kuiertafel tydens Aardklop. Goed geklede mense sit aan vir ‘n uithalermaaltyd van fynkos en van die beste Bolandse wyn in ‘n toprestaurant in Potchefstroom.

Tussen die tafels deur hop die bekende aktrise Lizz Meiring, raadslid van die TBF, glimlaggend – ‘n voorslag en flambojant in swart en rooi. Sy is die seremoniemeester, wynskinker en gasvrou wat seker maak al die ondersteuners geniet hulself. By tye hou sy sommer haar lyf kelnerin ook. Tussenin poseer sy vriendelik met al wat ‘n aanhanger is vir foto’s. Dit lyk asof haar energie ’n bodemlose put is, want die hele week het sy en ander kunstenaars in die brandende son by ’n kraampie op die feesgrond met lede van die publiek gesels om mense meer bewus te maak van die TBF.

Lizz, ook bekend as komediant, regisseur, skrywer en dramaturg, is onlangs met die Kunste Onbeperk- en KKNK-prys vereer vir diens aan die kunste. Die KKNK vier vanjaar sy 25ste bestaansjaar. Haar nuwe boek Soete Sonde (LAPA-uitgewers) wat oor sjokolade gaan, is ook pas bekendgestel.

Lizz vertel dat mense verkeerdelik onder die indruk is dat die TBF-fonds net ten bate van bejaarde akteurs gestig is. Dit is glad nie die geval nie.

“Ons praat nie uit oor die mense vir wie ons help nie, maar daar was toevallig ‘n akteur in sy negentigs in Bloemfontein wat saans vir ’n uur lank loop na die einste sentrum waar produksies vervaardig en vroeër miljoene uit hom gemaak is, om daar as nagsekerheidswag te werk. Dan het hy die volgende oggend om 5:00 teruggestap huis toe.

“Hulle het hierdie werk vir hom gegee omdat hy down and out was. Skandalig!” sê Lizz verontwaardig.

“Van die ander kunstemense bly onwettig in ou fabrieke omdat hulle niks anders kan bekostig nie. Ons kan dit nie toelaat nie. Daar is ook ander wat in Hillbrow in vervalle kamertjies woon met slegs kat- en hondekos om hul leë maag te voed.”

Maar hulle hang nie graag hierdie mense se name aan die groot klok nie sodat hul menswaardigheid gerespekteer kan word.

“Akteurs maak egter nie eers 5% van die potensiële begunstigdes uit nie, want die TBF dek elke enkele beroep in die vermaaklikheidsbedryf soos teater, radio, televisie, sirkusmense, kulkunstenaars en straatvermaaklikheidsmense sowel as hul wettige afhanklikes. Ons praat hier van die heeltydse sekerheidswag, teeskinkers, skoonmakers, plekaanwysers, logistieke mense en kantoorwerkers in die bedryf. Dit kom neer op ’n potensiële getal van 6,5 miljoen mense in die vermaaklikheidsbedryf.”

Argieffoto: Pixabay

Talle mense kan skaars glo dat diegene wat eens in die vermaaklikheidsbedryf op ons televisiestelle en op verhoë was, op hul oudag swaarkry. Lizz verduidelik:

“Die probleem met die persepsie dat ons glansganse en skatryk is, is dit wat mense in ons fantastiese klere by openingsaande sien, maar dis dikwels klere wat gehuur of goedgunstiglik deur ’n ontwerper vir die aand geleen is.

“En ons verkoop magic, ons verkoop smoke and mirrors en ons verkoop glamour. Mens wil ook nie eintlik aan daardie persepsie verander nie, want dis wat ander se lewens opwindender maak. Ons vertel mense nie van die gebarste pype en die alledaagse goed nie. Party het doodgewoon nie eens genoeg geld vir petrol om by ‘n oudisie uit te kom nie, wat dit onmoontlik maak om werk te kry.

“Suid-Afrika is ‘n baie klein landjie, maar, ironies genoeg, het ‘n onafhanklike Britse studie wat ‘n paar jaar gelede gedoen is, getoon dat ons bedryf 14% tot ons nasionale bruto produk bydra. Ek het ook ‘n forensiese ouditeur gevra om vir my navorsing oor die finansiële geskiedenis van akteurs te doen. Gedurende die laat sewentigs was akteurs se gemiddelde salaris R90 per maand, dus kon hulle nie geld wegsit nie. Vir talle is ’n staatspensioen hul enigste inkomste.

“Daar is inderdaad ouer akteurs wat nog rolle kry en dis wonderlik. Daar word egter bitter min rolle vir ouer vroue geskryf. Dit hang natuurlik ook nog van hul gesondheid af en of hulle woorde kan onthou. Mens kan boonop soms 14 tot 16 uur per dag werk. Dis nie net ‘n geval van vinnig in- en uitgaan nie. Mens moet nog die stamina vir hierdie werk hê. Produksie kan ook nie bekostig dat die mense halfpad deur siek raak of nuwe kostuums laat maak nie. Dus is hulle soms maar skrikkerig om ouer akteurs te gebruik. Tog is daar nog baie wat ‘n deurleefde briljansie van spel toon waarvoor daar geen gelyke is nie. Van die jonger akteurs is dikwels baie meer vol van hulself as die ouer akteurs. Die ouer akteurs is al deur die lewe geskaaf. Ons moet hulle nie weggooi nie.”

Waar op aarde kry Lizz haar energie vandaan?

“My beskermengeltjies gee vir my een of ander energiedrankie. Ek is met ’n oormatige hoeveelheid energie gebore. Natuurlik raak ek soms moeg, maar die kreatiwiteit, opwinding, avontuur en inspirasie is my suurstof en my batterye herlaai baie maklik.”

(Foto: Kilyan Sockalingum/Unsplash.)

Watter raad het sy vir jonger akteurs?

“As jy die rol kry, is jy en net jy vir daardie loopbaan van jou verantwoordelik en niemand anders nie. Dis die rede hoekom ons ook onder die vaandel van die TBF gratis slypskole vir mense aanbied wat hulle reeds in die kunste bevind of daarin wil kom. Dit word deur van skoliere en studente tot mense in hul sewentigs bygewoon. Ons wys hulle om op ’n praktiese en ekonomies uitvoerbare manier te leer hoe om hul eie werk te skep asook van al die aspekte daarvan soos, byvoorbeeld, waar jy ligte en kostuums kry as jy nie geld het nie, hoe ’n mediavrystelling en besprekings werk, hoe ‘n stel lyk wat nog goed lyk, maar maklik vervoer kan word en hoe jy vir ’n fees inskryf.

“Daar is oor die 400 privaat teaters in Suid-Afrika. Mense moet ook leer hoe om hul talente te kombineer. So kry jy soms ‘n sanger wat ook ‘n goeie danser is of ‘n akteur wat met die ontwerp van ‘n webtuiste kan help. Akteurs moet saamstaan en hul vaardighede deel. Daar is dus ‘n fyn lyn tussen op moedverloor se vlakte sit en positiwiteit in die kunste.”

Meer oor die TBF:

  • Dit bestaan sedert 1964 en is die ganse kunstebedryf se enigste en ten volle gratis hulpfonds. Die fonds sorg permanent vir ‘n groot aantal behoeftige bejaarde kunstemense wat totaal van hulle afhanklik is en niks en niemand anders het om hul te onderhou nie.
  • Die TBF bied ook finansiële bystand aan werkende kunstemense (en hul wettiglike familie) in nood met groot mediese onkostes soos kankerbehandeling en orgaanoorplantings wat nie deur hul mediese fonds gedek is nie, asook met begrafnisse.
  • Alle bestuurslede van die TBF is vrywilligers uit die Kunste en ontvang geen salarisse of vergoeding nie. Die enigste vergoeding wat wel betaal word, is vir die TBF-sekretaresse, Nicola Snow, teen ‘n bedrag van R4 000 per maand.
  • Die TBF word vanuit bestuurslede se huise bedryf – daar is geen kantore, maatskappyrekenaars, -tegnologie of -fone nie.
  • Fondse wat ingesamel word, gaan sover moontlik direk aan begunstigdes en hul registrasie-, administrasie- en bedryfskoste beloop maar 9% per jaar. Die state word jaarliks deur ‘n geregistreerde ouditeursfirma geoudit.
  • Die TBF ontvang geen fondse van die regering of ander instansies nie.
  • Elke versoek om hulp word deeglik ondersoek en konstant gemonitor.
  • Die TBF se tesourier is ‘n professionele finansiële adviseur en die TBF se boeke is oop vir publieke ondersoek. Daar is geen verbintenis met enige ander organisasie of politieke party nie.
  • Hul belangrikste doelwit is om tehuise vir bejaarde kunstemense te skep waar hulle tuis voel en versorg kan word.

Hoe kan jy die TBF help?

Deur:

  • Skenkings by sekere venues, feeste, teaters, fondsinsamelings en gala aande te doen;
  • Belasting-aftrekbare skenkings;
  • ‘n Gedeelte van die loketinkomste of verkope van ‘n kunswerk te skenk;
  • ‘n Funksie ten bate van die TBF te reël;
  • Die TBF se logo en details op jou plakkate, programme, en advertensiemateriaal aan te bring;
  • Die TBF se inligting in ander landstale te vertaal;
  • As gaste by geldinsamelingsfunksies op te tree;
  • Die TBF met behulp van Woolworths se MySchool/MyVillage/MyPlanet-kaart te ondersteun;
  • ‘n Opgeleide geregistreerde beroepsafslaer se dienste gratis te kry;
  • Die TBF in te lig van kunstemense in nood; en
  • Te help met huisbesoek, ‘n bord kos, vervoer of ander praktiese hulp.

Soos Lizz sê: “Jou hulp is die applous wat ’n lewe kan red.”

  • Indien jy finansieel ’n addisionele bydrae wil maak tot kunstenaars wat werklik in nood verkeer, ondersteun betroubare organisasies soos die Teaterbystandsfonds wat bejaarde en siek kunstenaars ondersteun. Hulle het ’n uiterse positiewe impak op die ondersteuning van kunstenaars in die plaaslike kunsbedryf en bestaan reeds sedert 1962. As gevolg van die impak van Covid-19 op die plaaslike bedryf (wat meer as 2 miljoen mense in die bedryf raak), het dié fonds besluit om in samewerking met SAGA en die PMA ’n kosprojek vir kunstenaars van stapel te stuur. Vir meer inligting besoek TBFSA of kliek hier om ’n skenking te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.