Afrikaans is Groot: Nuwe Helpende Hand-veldtog fokus op gemeenskapskrag

hannes-noeth-hh

Hannes Noëth is die uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand. Foto: Verskaf.

Te oordeel aan die aantal aansoeke om hulp wat Solidariteit Helpende Hand die afgelope paar jaar vir menige van sy nasionale projekte ontvang het, neem armoede teen ʼn kommerwekkende tempo toe.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê dít het Helpende Hand genoop om sy #Helpmekaar-veldtog van stapel te stuur. Helpende Hand is Afrikaans is Groot se gemeenskapsvennoot en amptelike liefdadigheidsbegunstigde en daarom gaan die platforms by die AiG-megakonserte, wat Vrydag in Pretoria afskop, gebruik word om bewusmaking oor #Helpmekaar te skep.

“Helpende Hand beywer hom om Afrikaner-armoede te verlig, te verbreek en te voorkom. Ons spits ons hoofsaaklik daarop om studente en weerlose kinders, gestremdes en bejaardes onder ons vlerk te neem,” sê Noëth.

Noëth verduidelik die #Helpmekaar-veldtog vestig die publiek se aandag op die krag van samewerking in die gemeenskap deur die strategiese samewerking met die AiG-platforms.

“Elkeen van ons kan ’n verskil maak, al is dit hoe gering – jy kan ’n positiewe invloed op iemand anders se lewe hê. Bietjie vir bietjie maak baie en ons almal weet dat die krag van saamwees beter is as die krag van alleen wees – dit demonstreer gemeenskapskrag. Helpende Hand is ’n gemeenskapsorganisasie waar mense wat omgee vir minderbevoorregtes en hul gemeenskappe hande kan vat om ’n verskil te maak. Daarom loods ons die #Helpmekaar-veldtog, om mense aan te moedig om betrokke te raak by hul plaaslike Helpende Hand-tak of om een van Helpende Hand se vele nasionale projekte te ondersteun,” sê Noëth.

Volgens Noëth bied Helpende Hand se takke aan die Afrikaanse kultuurgemeenskap ’n hartstuiste om ’n verskil in hul gemeenskappe te maak.

“Vier komponente van ons nasionale raamwerk word takties deur AiG-kunstenaars en die #Helpmekaar-veldtogte bemark met spesifieke boodskappe en inhoud om die gemeenskap aan te moedig om betrokke te raak. Eerstens is Helpende Hand se gemeenskapstrukture, tweedens ons nasionale projekte, spesifiek #StopHonger, derdens ons Studiefondssentrum en vierdens Ons Winkel [-skenkingswinkels],” voeg hy by.

Riaan Benade (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Noëth sê Helpende Hand kondig met trots sy samewerking aan met die Afrikaanse sanger Riaan Benadé wat onlangs ’n temalied vir Helpende Hand geskryf het. “Riaan se inspirerende lied “Helpende Hande” gaan spesifiek oor die krag van ’n gemeenskap en die rol wat jy as ’n individu daarin speel en dit som #Helpmekaar perfek op,” sluit Noëth af.

Benadé sê op sy beurt hy het die liedjie geskryf om mense aan te moedig om te help waar hulle kan.

“Daar is ʼn Bybelse trek reg deur die liedjie. Ek het gegaan spesifiek vir die storie waar Moses sy arms opgehou het om die oorlogsveld aan die Israeliete oor te gee. Maar hy kon nie sy arms self so lank ophou nie, want hy moes vir dae so gestaan het, daarom het Aaron en Hur sy arms kom ophou,” sê Benadé.

“Vir my is dit soortgelyk aan wat Helpende Hand probeer doen, hulle hef hul arms op en hulle probeer help in die stryd teen honger en armoede, maar hulle kan dit nie alleen doen nie. Hulle word moeg, partykeer word hulle nie genoeg gehelp nie, partykeer het hulle nie genoeg hulpbronne nie. Ek voel dit is veel beter as mense saamstaan, deur ʼn organisasie te help wat klaar die werk doen, wat klaar weet hoe die situasie werk,” sê hy.

Helpende Hande is nou beskikbaar op Afrikaans is Groot Volume 12. Ondersteun die #Helpmekaar-projek deur jou CD vandag nog te koop. Die liedjie is ook op alle digitale mediaplatforms beskikbaar.

Die liedjie se video gaan Donderdag eksklusief op Maroela Media bekendgestel word nadat Benadé eerstehands ervaar het wat Helpende Hand daagliks doen om inhoud vir die video te skiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hans Richardt ·

Daar moet nie kultuur geskep word van hamster-in-wiel armoede sindroom, wat van geslag na geslag oorgedra word nie.
Sommige jonger mense wil nie werk nie en staan bakhand asof samelewing hul skuld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.