Grootste Afrikaanse treffers spog weer op AiG-versamelalbum

‘Afrikaans is Groot Volume 12’ is van vandag, 1 November, op vooraanstaande CD-winkels se rakke beskikbaar. Foto: Verskaf.

Wanneer winkels se Kersversierings in volle glorie pryk en Afrikaanse musiekliefhebbers hul vere begin reg skud vir die jaarlikse Afrikaans is Groot (AiG)-megakonserte, dan weet ’n mens dit is tyd om ook uit te sien na die jaarlikse Afrikaans is Groot-versamelalbum.

Afrikaans is Groot Volume 12 is van vandag, 1 November, op vooraanstaande CD-winkels se rakke en is vir die eerste keer in dié handelsmerk se geskiedenis binnekort op alle digitale mediaplatforms beskikbaar.

Paulo Azevedo en Arnold Coleske, van die direkteure van Coleske Artists, was uit die staanspoor direk betrokke by die samestelling van AiG se versamelalbums. Hierdie is die 12de uitreiking van die versameling waarvan hulle die liedjies gekies het. Elke uitreiking tot dusver het platinumstatus bereik, waarvan verskeie selfs dubbelplatinum bereik het.

Azevedo vertel die konsep van Afrikaans is Groot is 12 jaar gelede gebore uit ’n behoefte van Coleske Artists om die jaar se grootste treffers op een album te versamel, gepaard met eksklusiewe enkelsnitte wat nêrens anders beskikbaar is nie. Vandaar het hulle by die resep gebou en dit was ’n wegholsukses. Teen die vyfde volume was dié versamelstel so gewild dit moes as dubbelvolumes uitgereik word en in 2007 het dit tot die eerste Afrikaans is Groot-konsert gelei.

Azevedo sê dit is ’n reuseproses om die liedjies vir hierdie gesogte versamelalbum te kies.

“Die proses duur ’n hele jaar. Ons hou die mark met ’n fyn oog dop. ’n Mens weet wat is in en wat is uit, en watter liedjies goeie reaksie gekry het en watter nie. As ons eers ’n poel het van die treffers dan neem dit omtrent ’n maand om die nagenoeg 40 liedjies te kies wat in die dubbelalbum gaan verskyn,” sê Azevedo.

Hy sê vir hulle gaan dit altyd oor die publiek en om vir die publiek iets te bied wat hulle harte trots Afrikaans laat klop. Wat hulle doen is om ’n fyn balans tussen nuwe liedjies, gewilde treffers en eksklusiewe treffers te handhaaf.

“Dan is daar die kuns om die kombinasie reg te kry van die getal nuwe liedjies wat gebruik gaan word tenoor eksklusiewe liedjies en treffers, en om dit dan in so ’n volgorde te rangskik om luisteraars geboei te hou. ’n Mens wil van die eerste snit tot die laaste een luister sonder om momentum te verloor.”

Paulo Azevedo vertel die konsep van Afrikaans is Groot is 12 jaar gelede gebore uit ’n behoefte van Coleske Artists om die jaar se grootste treffers op een album te versamel, gepaard met eksklusiewe enkelsnitte wat nêrens anders beskikbaar is nie. Foto: Verskaf.

Vanjaar is daar sewe eksklusiewe treffers om na uit te sien.

“Dit is meer as gewoonlik. Gewoonlik is daar net vier of wyf, maar die afgelope jaar was so suksesvol en ons het ’n redelike groot poel musiek om in te duik. Dit is lekker om uit soveel enkelsnitte te kon kies en ons moes terughou anders sou dit handuit ruk. Een daarvan is Riaan Benadé se liedjie “Helpende hande”, wat vir Helpende Hand opgeneem is en wat vir ’n goeie doel gaan.”

Die ander eksklusiewe liedjies is “Ek weet al lankal” deur Demi Lee Moore en Bobby van Jaarsveld, “Stiltes” deur Karlien van Jaarsveld, “Doenit als vir liefde” deur Ivan Roux, “Storie” deur Loki Rothman, “Uitsondering” deur Tasha en “As jy dink jy weet” deur Ruhan du Toit.

Die afgelope jaar se uitskiettreffers wat ingesluit is, is onder meer Bok van Blerk se “Hoor ons”, Riana Nel se “Hou die hemel oop”, Dewald Wasserfall se “Elektrisiteit”, Demi Lee Moore se “Mis eet slaap herhaal”, Ivan Roux se “Daai ding”, Tarryn Lam se “Geheueverlies” en Steve Hofmeyr se “Loper”.

Azevedo beklemtoon die jaarlikse versamelalbum was nog nooit ’n afskrif van die spesifieke jaar se Afrikaans is Groot-konserte nie.

“Die Afrikaans is Groot-konserte het eers in 2007 begin. Die konserte is gebore uit die sukses van die Afrikaans is Groot-albums. Die albums word uitgereik nog voor die konserte begin en bevat die grootste treffers deur die vernaamste kunstenaars asook eksklusiewe liedjies. Die konsert word volgens dieselfde konsep saamgestel, maar het ʼn lewe van sy eie – steeds relevant en vol unieke inhoud en hoogtepunte. Vol. 12 is die geleentheid om nuwe liedjies te bemark en treffers te vier, maar die konsert is ’n belewenis op sy eie,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.