Brendan rook die pyp op Top-20

Brendan Peyper. (Foto: Facebook/Brendan Peyper)

Eloff is vandeesweek deur Brendan Peyper – wie se jongste enkelsnit, “Insomnia”, blitsig die topposisie op die Maroela Media Afrikaanse Top-20 ingeneem het – onttroon.

Dié liedjie het die trefferparade verlede week in die no. 11-posisie betree en is op Peyper se splinternuwe album, Insomnia, te hoor.

Die sanger Jan-Adriaan van Rooyen, beter bekend as “Prop”, se debuutenkelsnit, “Kwaaitjie”, maak dié week sy toetrede tot die Top-20. Die liedjie se gepaardgaande musiekvideo is ook pas bekendgestel.

Volgens Van Rooyen som die gesegde “klein botteltjie, groot gif” hom die beste op. “Mense wat wonder oor dié bynaam moet my sommer by ʼn volgende konsertgeleentheid self kom vra,” sê die sanger skertsend.

Hy is onlangs as nuwe kunstenaar by Select Musiek verwelkom en is ook vanjaar weer by Helpende Hand se LIG-konsert, wat 3 September op die Sol-Tech Monumentpark-kampus plaasvind, te sien.

Maroela Media het vroeër berig dat dié geleentheid nie net ten doel het om ’n buitelug gesinsaand te wees nie, maar ook om opnuut bewusmaking te skep vir persone met spesiale behoeftes.

Ricus Nel en die nuwe pa Riaan Benadé se braaitreffer “Haai haai” klim ook vandeesweek met twee plekke van verlede week se no. 5- na hierdie week se no. 3-posisie. Daar is verder tien liedjies wat hul plek verloor en vyf wat onveranderd bly.

  1. Brendan Peyper – “Insomnia”
  2. Eloff – “Witblits”
  3. Riaan Benadé en Ricus Nel — “Haai haai”
  4. Riaan Benadé en Jay – “Rowwe bliksem”
  5. Droomsindroom – “Hey sonneblom”
  6. Eloff – “Johnnie Blou”
  7. Riaan Benadé – “Spontaan”
  8. Karlien van Jaarsveld en Jacob Swann — “Lief”
  9. Irene-Louise van Wyk – “Tekkies brand”
  10. Lianie May – “Bietjie Benoni”
  11. Bernice West – “Ek is nie jou X nie”
  12. Rooksein – “Genade nader”
  13. Bernice West – “Jona”
  14. Elandré – “Hand aan hand”
  15. Jo Black – “Sê my mamma”
  16. Ivan Roux – “Single”
  17. Bernice West en Ilán van Staden – “Soen my op my mond”
  18. Appel – “Dina”
  19. Francois van Coke en Elandré – “Maak wakker”
  20. Prop – “Kwaaitjie”

*Die Maroela Media Afrikaanse Top-20 word saamgestel deur enkelsnituitreikings en verskeie datafaktore word in ag geneem: Apple Music- en Spotify-stromings, YouTube-kykbeurte (spesifiek week-tot-week-data) asook radiospeeltyd. Fisieke albumverkope het geen invloed op dié treffersparade nie.

Nuwe uitreikings

Die akteur en sanger Bouwer Bosch het onlangs weer ʼn nuwe enkelsnit, “Sambreel”, bekendgestel.

Dié liedjie is volgens Bosch deur die gevoel van kwesbaarheid geïnspireer en is tydens die laaste donderstorm voor die winter vanjaar begin het neergepen.

“Die liedjie handel oor die verskillende tipes verhoudings wat ons het. Nie alle verhoudings is romanties, vriendelik of langtermyn nie. Ons het kort verhoudings of interaksies met ons petroljoggie, die kelner, die kassier, die bedelaar by ʼn verkeerslig. Al daardie kort, klein interaksies het ʼn impak op ons lewens, party goed en ander sleg,” sê die sanger.

Ander liedjies wat ook die afgelope week bekendgestel is, sluit Jeffrey Smith se “Onder deur die reënboog”, Vatvas Dansorkes se “Vaaldam toe” en “Stoute ogies”, asook Neil Somers se “Neonlig nagdans” en Anton Fitchat en Etha se “Beurtkrag” in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.