Corlea voer luisteraars mee met ‘tegniese ballade’

Corlea. (Foto: Skoll Photography)

Corlea het vandeesmaand aanhangers bederf met die uitreiking van ʼn splinternuwe ballade getiteld “Haat”.

Die sangeres bieg dat die liedjie se tegniese sangwerk vir haar ʼn uitdaging was en dat sy daarna uitsien om die liedjie op die verhoog te sing.

“Die liedjie kan baie vinnig skerp klink, maar ek weet dat ek dit gaan geniet om dit met elke vertoning te sing, net soos ‘Swart koffie’,” vertel sy.

Die sangeres, wat in Oktober verlede jaar bekend gemaak het dat sy en die musikant, Juandré Marais, ʼn paartjie is, sê dit was juis op sy voorstel dat sy die eerste keer na “Haat” geluister het.

Hy het jare tevore die liedjie gehoor toe hy aan huis by liedjieskrywer Johan Oberholzer gekuier het en Johan die liedjie vir hom gespeel het. Dit was egter vir ʼn ander kunstenaar bedoel, maar dié het dit van die hand gewys.

“Ek is baie dankbaar dat die liedjie uiteindelik oor my pad gekom het. Dit is vir my ʼn fantastiese liedjie.”

Duidelik stem Afrikaanse musiekliefhebbers saam en is die liedjie te hoor op al wat ʼn Afrikaanse radiospeellys is.

“Ek dink mense kan hulle daarmee vereenselwig omdat almal van ons in die een of ander stadium al gevoel het asof ons onsself haat omdat ons nie ʼn situasie, of ʼn persoon wat sleg is vir ons, kan haat nie,” verduidelik die donkerkop-sangeres.

“Dit is ʼn tawwe situasie om in te wees en ek wens dit niemand toe nie. Ek is egter bly dat ek nie alleen is nie en dat die meeste van ons al so iets beleef het.”

Jean “Floors” Oosthuizen, Danny Smoke, Paulo Azevedo en Arnold Coleske en Vinnie Henrico het saam met Corlea aan die liedjie gewerk.

“Ek het al my vertroue in hom geplaas en hy het aan my en homself bewys dat ons iets vars en anders kan doen.”

Corlea, wat sedert die inperking mooimaaksessies en sanglesse aanbied, vertel dit gaan goed met haar en dat sy uiteindelik tyd gekry het om haarself beter te leer ken.

“Ek het vir ʼn lang tydperk op optredes gefokus en het die afgelope jaar en ʼn half tyd gehad om stil te staan en te kyk na wie ek is en hoe ek nog voel oor sekere dinge in my lewe. Ek het geleer dat ek ʼn goeie onderwyser is en ek is dolverlief en gelukkig in my verhouding.

“Daar is tans niks in my lewe wat ek haat nie, behalwe sjokolade, wat ek eintlik behoort te verafsku – maar ek haat dit dat ek dit nie haat nie,” skerts sy.

“Haat” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.