E-konsertgids: Dié vermaak op Jeugdag aanlyn te sien

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die afsonderingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

Dinsdag 16 Junie is Jeugdag en Maroela Media het ʼn konsertgids saamgestel van aanlyn konserte waarmee musiekliefhebbers op dié vakansiedag kan ontspan.

Ter ere van Jeugdag bied die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) en Marco Mentoor Produksies ʼn opwindende gratis aanlynkonsert wat opkomende Drakenstein-sterre aan ʼn wêreldwye gehoor sal bekend stel.

Gegewe vanjaar se tema, “Jeugmag: Ontwikkel Suid-Afrika tesame tydens die Covid-19-periode”, is dit ʼn geleentheid vir die ATM om sy bande met gemeenskappe te versterk asook musiekbeoefening en kultuurloopbane onder die jeug te bevorder.

“Plaaslike talent word dikwels tydens groot geleenthede misgekyk of uitgebuit en word ook nie altyd na waarde geskat nie,” sê Michael Jonas, direkteur van die ATM wat vanjaar sy 45ste bestaansjaar vier.

“Om hierdie redes wil ons ʼn platform aan plaaslike kunstenaars bied om te kan groei, vaardighede te slyp en broodnodige blootstelling te verkry.”

Die konsert sluit in optredes deur onder andere Deon Valor (kitaar/sang), Ferlin Mark Vers (rymklets), John Koopman (komedie), Kaylin Levendal (vioolspel), Marco Mentoor (musiek), Melanie Scholtz (digkuns), Nosipho H (sang), No S’wett (sanggroep), Triveno (sang) en Tylo Fortuin (sang/verhoog).

“Al die kunstenaars is van die Drakensteinvallei, en ons wil hiermee ook ʼn bietjie positiwiteit en vermaak bied tydens inperking,” sê hy. “Vermaak het immers die krag om ons te verenig en in krisistye aan mekaar te bind.”

Die konsert begin om 12:00 en enigiemand kan dit via Facebook stroom by www.facebook.com/afrikaansetaalmonument/.

Vir meer inligting besoek www.taalmuseum.co.za of volg die Taalmonument op Facebook, Twitter of Instagram. Die kontaknommers vir die Taalmonument is +27 (0)21 863 0543 / 872 3441 en +27 (0)71 500 8740.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het hande gevat met die sanger en aanbieder Jak de Priester om ʼn konsertreeks aan te bied wat ʼn hulpprogram vir Afrikanermonumente sal ondersteun.

Die Hier Staan Ons-konsertreeks met De Priester as gasheer skop op 16 Junie met Steve Hofmeyr as gaskunstenaar af. Die konsert sal aanlyn gestroom word terwyl die sangers reg voor die ingang van die Voortrekkermonument optree. Die Voortrekkermonument self sal ook as “skerm” dien vir dié konsert.

Die FAK het onlangs as deel van sy geskiedenisfonds ʼn omvattende hulpprogram ter ondersteuning van Afrikanermonumente bekendgestel om dié instellings se finansiële oorlewing te midde van die Covid-19-pandemie te verseker.

Deel van die hulpprogram is nie net finansiële steun uit die FAK se geskiedenisfonds aan monumente in nood nie, maar ook dié reeks aanlyn konserte en die uitreik van kultuurkaarte aan FAK-vriende. Deur middel van dié kaarte sal FAK-vriende agtergrondinligting kry oor verskeie historiese plekke, ʼn roetekaart na monumente en ook afslag met toegangsgelde.

Volgens Hofmeyr beplan hy om liedjies soos “Pampoen”, “Suikerbossie” en “Sarie Marais” te sing asook verskeie ander FAK-liedjies en enkele patriotiese liedjies.

Afgesien van sy bekendste liedjies wat die gehoor kan hoor, vra De Priester hom ook uit oor sy musiekloopbaan wat al oor meer as drie dekades strek.

“Monumente dra nie maskers nie en daarom samel ons geld in vir ons monumente wat ʼn bietjie olik begin lyk. Sonder dat jy jou huis verlaat, is jy ons eregas; vlak voor ons erfeniskolos, die Voortrekkermonument. Ek sing, jy braai, punt,” sê Hofmeyr.

Die konsert begin om 19:00. Kaartjies kos R50 en is hier beskikbaar.

Die musikante Olga Leonard en Babette Viljoen bied in samewerking met die Pierneefteater hul produksie Babette & Olga – Sitkamer Soiree aan.

Leonard maak saam met Viljoen en Hilandi du Toit deel uit van die KROG-trio, wat die digter Antjie Krog se gedigte getoonset en uitgevoer het. Die trio is in 2018 vereer met die Aardklop-toekenning vir beste musiekgedrewe produksie en is vir ʼn Fiësta-toekenning benoem.

Die konsert is ten bate van die Presidentia Jeugsorgsentrum op Kroonstad. Kaartjies kos R75 en is nog vir sewe dae geldig na afloop van die konsert.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.