Eerbewys vir ‘Sarie Marais’ se familie

Oom Japie Toerien (89) wat self ‘n musikant is, het sy lewe daaraan gewy om sy ouma, Sarie Marais, se nalatenskap behoue te laat bly. (Foto: Johann van Staden)

Japie Toerien (89) van Centurion, kleinseun van die ware Sarie Marais (eintlik Maré) is verlede week deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) met ’n eerbewys vir sy besonderse nalatenskap vereer.

Japie se oupa, JP Toerien, het onder die skuilnaam Jepete geskryf, en die liedjie “Sarie Marais” was oorspronklik ’n gedig vir sy vrou voordat hy en Maré getroud is.

Sy oupa is dood voordat hy gebore is, maar hy het sy ouma geken. Japie was agt jaar oud toe sy in Desember 1939 dood is. Sarie het haar verbintenis met dié liedjie haar hele lewe lank stil gehou, maar hy het van jongs af geweet sy ouma is dié Sarie in die liedjie.

Sarie en JP Toerien. (Foto: Johann van Staden)

Die liedjie se wysie was dié van Septimus Winner se “Sweet Ellie Rhee”, wat in 1865 gedurende die Amerikaanse Burgeroorlog geskryf is. Volgens oorlewering het Amerikaners dit gesing toe hulle op die destydse Transvaalse goudmyne gewerk het en Toerien het dit gehoor. Toe die liedjie uitgereik is, is Maré se van verkeerdelik as Marais aangedui, maar dit het onveranderd gebly.

Japie, self nog ʼn kranige musikant wat gereeld orrel en trekklavier speel, het sy lewe deur hard gewerk om die geskiedenis vir sy grootouers se gewilde liedjie bymekaar en lewendig te hou.

“Die eerbewys wat ek Vrydag ontvang het, kan net in een woord beskryf word: fantasties. Ek het nooit gedink so iets sou kon gebeur nie. ʼn Mens kan die FAK net bedank vir die wonderlike werk wat hulle doen,” het ʼn verheugde Japie aan Maroela Media gesê.

Hy meen sy ouma sou nooit kon glo dat sy byna ʼn honderd jaar later steeds só gewild sou wees in Suid-Afrika met selfs bote en woonstelblokke wat na haar en die haar liedjie vernoem is nie.

Die naam “Sarie Marais” en die eerste vers van dié liedjie verskyn ook op die sertifikaat wat Toerien saam met die prys gekry het.

Prof. Anton van Vollenhoven oorhandig die FAK se eerbewys aan Oom Japie. (Foto: Johann van Staden)

Philip Moolman het “Sarie Marais” die aand in die Heldesaal van die Voortrekkermonument voor die marmerfries gesing terwyl Volkspele-kinders en volwassenes daarop gedans het.

Prof. Anton van Vollenhoven, buitengewone professor in geskiedenis aan die Noordwes-Universiteit, het in sy hoedanigheid as voorsitter van die Volkspele-beweging se Noorde-streek, die toekenning aan Toerien oorhandig. Die Volkspele is tydens die vereringsfunksie ook amptelik vir die jaar geopen.

Volgens Barry Müller, kultuurorganiseerder van die FAK-kultuurnetwerke, is die eerbewys ʼn manier vir talle kultuurorganisasies om saam te werk en te verseker Afrikaners se nalatenskap behoue bly.

“’n Aand soos hierdie help ook weer om oud en jonk se oë te open vir ons besonderse Afrikaanse geskiedenis,” het Müller bygevoeg.

Die liedjie, wat in die FAK Sangbundel verskyn, is oor die jare deur verskeie kunstenaars opgeneem. Dit sluit in die Amerikaanse sanger en liedjieskrywer Jim Reeves, wat dit gesing het in die fliek Kimberley Jim, wat in 1963 uitgereik is. Ander kunstenaars sluit in Stef Bos en Helmut Lotti; Lochner de Kock het dit op sy album Haal asem en leer dans ingesluit en Rocco de Villiers het dit op klavier opgeneem.

Daar is ’n granietbord met die woorde van “Sarie Marais” in die FAK se Afrikaanse Liedjietuin by die Voortrekkermonument in Pretoria. Hierdie tuin is in 2012 ná die verskyning van die FAK Sangbundel Vol II ontwikkel en in 2013 geopen om erkenning te gee aan persone wat Afrikaanse musiek tot wêreldklasgehalte ontwikkel het. Bekende liedjies soos “Sarie Marais” en “Suikerbossie” tot moderne liedjies soos Steve Hofmeyr se “Pampoen” en Jak de Priester se “Sally Williams nougat” is ook op granietborde in dié tuin verewig.

Lees meer oor JP Toerien op die FAK se Afrikanergeskiedeniswebblad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.