Elmé Churr vier ‘wonderwerk-baba’ met musiekvideo

Ná ʼn reis van sewe jaar vol hoop, geduld en totale vertroue, vier die sangeres Elmé Churr uiteindelik die koms van haar en haar man se “wonderwerk-baba” met die bekendstelling van haar jongste enkelsnit, “Kos vir my siel”.

Dié liedjie is op haar nuwe album met dieselfde titel. Die album is reeds in 2019 uitgereik en het 11 snitte. Haar man, Ben Churr, sing saam met haar op die snit getiteld “By jou bly”.

“‘Kos vir my siel’ gaan oor hoop en dat ʼn mens altyd moet vashou aan die beloftes wat God gemaak het,” het Churr vertel.

Met dié liedjie wil sy luisteraars herinner dat God net die beste vir Sy kinders wil hê en dat ʼn mens moet bly glo in wonderwerke. “Wonderwerke gebeur juis as jy platgeslaan is – ʼn mens moet net al jou vertroue en hoop op Hom plaas en nooit moed opgee nie,” sê sy.

Churr sê sy beleef eerstehands só ʼn wonderwerk van God met haar swangerskap van bykans vyf maande wat sy nou vir die eerste keer bekendmaak. Sy en Ben het lank gedroom oor die dag wat hulle twee ʼn gesin van drie sou word, maar na jare van smekende gebede was hul reeds op die punt van opgee toe sy besef sy is swanger.

“Daar is drome in elkeen se hart wat ʼn verwagting, en dan tot ʼn mate ʼn leemte, in jou hart los. Soos ʼn mens identifiseer wat die dinge is wat kos vir jou siel is, begin ʼn mens toelaat dat dit reën op die gebiede in jou lewe waar die grond onvrugbaar en droog was. Dit skep lewe, hoop, groei, geluk en laat ons toe om nóg groter te droom,” sê sy.

Elmé spog met haar piepklein bababoepie. (Foto: Verskaf)

“Selfs al voel jy stoksielalleen en asof God nie jou gebede verhoor nie, moet jy onthou dat God se droom vir ons elkeen se lewens mooier en kleurvoller is as wat ons eie drome ooit kan wees.”

Baba Luke maak in Junie sy opwagting. “Ons het van die begin af ʼn seuntjienaam gereed gehad. Luke is ook Ben se middelnaam.” Ben is ʼn sakeman, musikant en liedjieskrywer.

Sy lag wanneer sy vertel Ben het haar gesmeek om ʼn swangerskapstoets te doen toe sy vir ʼn hele ruk volgens hom “baie moeilik” was.

“Ek het toe uiteindelik sommer ʼn goedkoop swangerskapstoets gedoen, want na al die jare se probeer was ons moeg om soveel geld op duur toetse uit te gee. Toe die toets positief is, kon ons dit nie glo nie. Ons het ʼn duur toets gaan koop en steeds kon ons nie dit nie glo nie. Bloedtoetse was al wat ons kon oortuig dat ek swanger is.”

Sy vertel hulle ouers is oorstelp van vreugde om weer grootouers te word. “Al drie hulle ander kleinkinders is in Dubai, so dis nou die enigste baba wat naby aan hulle gaan wees. Ek is ook die jongste kind, so hulle baba kry nou ʼn baba.

“Ons het almal so lank as familie saam gebid vir ʼn wonderwerk dat die hele familie net oorweldig was deur die nuus,” sê sy opgewonde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Katjie ·

Baie geluk met julle swangerskap. Wonderwerke is nog lank nie verby nie. Ek het na 15 jaar my wonderwerk gekry en toe ons ons oe uitvee was daar ‘n 2de een. Die Here laat alles op die regte tyd gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.