Fakkels bring hulde aan mense met gestremdhede by LIG-konsert

Mathys Roets vermaak die gehoor by Helpende Hand se LIG-konsert. Hy sal vanjaar weer by die konsert optree. (Foto: Maroela Media)

Deur Suzette Oosthuizen

Die Solidariteit Beweging se verskillende instellings saam met ‘n groot aantal konsertgangers gaan op 28 Julie 2023 om 18:00 seremoniële fakkels by die jaarlikse Liefde In Gestremdheid (LIG)-konsert aansteek om hulde aan al ons persone met gestremdhede te bring.

Mense met spesiale behoeftes moet erkenning kry omdat hulle waardevolle lede van ons samelewing is, en omdat hulle unieke perspektiewe en talente het. Deur hulle te erken, word inklusiwiteit bevorder, wat die fondament is van ‘n regverdige samelewing. Die erkenning van persone met gestremdhede verdien prioriteit, want hulle het nie minder waarde as ander nie; hulle het bloot ander talente en moontlikhede.

Persone met gestremdhede speel ‘n onmisbare rol in ons samelewing. Ten spyte van soveel struikelblokke wat hulle daagliks moet oorkom, weergalm hul boodskap nogtans in strate en geboue, in huise en werkplekke: “As ek kan, kan jy ook.”

Solidariteit Helpende Hand se forum vir persone met gestremdhede reël jaarliks ‘n spesiale LIG-konsert ter ere van persone met gestremdhede. Die doel van die konsert is om hulde aan elkeen van hulle te bring, en om die gemeenskap bewus te maak van die uitdagings waarmee hulle saamleef. Die fondse wat die konsert genereer, word vir die LIG-studiefonds aangewend.

Solidariteit Helpende Hand se forum vir persone met gestremdhede reël jaarliks ‘n spesiale LIG-konsert ter ere van persone met gestremdhede. (Foto verskaf)

Studente met gestremdhede is gewone studente met groot drome in hul harte, op soek na ‘n regverdige kans vir hul toekoms. Hulle moet reeds oorleef in ‘n wêreld wat nie by hul gestremdheid aangepas is nie. Heel dikwels is die finansiering van hul studies net nog ‘n uitdaging. Daarom is die LIG-studiefonds geskep om behoeftige, gestremde Afrikaanse studente te finansier met rentevrye studielenings.

Solidariteit Helpende Hand se volgende LIG-konsert word op 28 Julie aangebied. (Foto: Maroela Media)

Vanjaar is die derde jaar wat Solidariteit Helpende Hand dié konsert aanbied om hoop te saai. Ons hoofborg is hierdie jaar Afrison en die konsert word weer op die Sol-Tech-kampus aangebied. Ons is opgewonde om kunstenaars soos Drie van die Bestes, Prop en Vernon Barnard op die verhoog te verwelkom. Sarina Bosman is ons seremoniemeester wat kleur aan die aand gaan verleen. Die Matthys Roets-toekenning sal weer aan iemand met uitsonderlike deursettingsvermoë oorhandig word, en ons sal ook die wenner van die Helpende Hand Sê jou sê-kultuurkompetisie vir skoliere met gehoorverlies bekendmaak.

Kaartjies beloop R250 per persoon, R125 vir kinders onder 12, en slegs R1 920 vir ‘n tafel van 8 persone, wat aandete en verversings insluit.  Kom wees deel van hierdie uitsonderlike hoopsaai-geleentheid.

Ons bedank vanjaar se borge: Afrison, die hoofborg; SkillFull; en Maroela Media, ons mediavennoot vir die konsert.

  • Suzette Oosthuizen is Solidariteit Helpende Hand se hoof van sentrums en die nasionale tak vir mense met gestremdhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.