Geliefde sangeres se stem herleef digitaal

irene-van-wyk

Irene van Wyk.

Die sangeres Irene van Wyk se stem het op 12 Oktober 2009 stil geraak toe sy in die ouderdom van 44 in ʼn motorongeluk gesterf het.

Nou, 13 jaar ná haar afsterwe, herleef haar musiek, met die albums Lyne van jou lyf (2005), All I Need is Music (1999) en In U spore (2007), wat op alle groot digitale platforms beskikbaar is.

All I Need is Music bevat liedjies soos “All around the world”, “Gevalle engel” en “My hart se wens”.

Lyne van jou lyf is ʼn duet-album waarop sy onder andere saam met Pieter Koen, Steve Hofmeyr, Dozi, Kurt Darren en Laurika Rauch sing. Die album bevat ook solo-snitte soos “Oorbegin”, “A man like you” en “Sonder ʼn woord”.

Irene se laaste album, ʼn Christelike album getiteld In U spore, bevat snitte soos “Waar pas ek in?”, “Gebreekte kruik”, “Doen U wil” en “Meer soos U”.

Van Wyk het in 1986 haar professionele sangloopbaan afgeskop deur deel te raak van die groep Chess, wat deur die bekende musiekpromotor Louis van Wyk gestig is.

Sy is in 1987 met Louis getroud en het met die geboorte van hulle twee kinders, Vaughn en Irene-Louise, haar musiekloopbaan vir eers opsy geskuif. Sy het egter in 1994 haar loopbaan hervat met die uitreiking van haar solodebuutalbum, Die ander ek.

Volgens Irene-Louise van Wyk (30), wat 17 jaar oud was toe haar ma oorlede is, het mense male sonder tal die afgelope dekade vir haar gevra waar hulle haar ma se musiek in die hande kan kry.

Irene en haar dogter, Irene-Louise van Wyk. (Foto: Verskaf)

Irene-Louise, self vandag ʼn uiters gewilde sangeres wat bekend is vir treffers soos “Tekkies brand” en “Beheer verloor” en later vanjaar op die Afrikaans is Groot-verhoog gaan staan, sê haar pa het die inisiatief geneem om ʼn paar van haar ma se albums digitaal beskikbaar te stel.

“Dit maak my hart warm dat die musiek nou vir altyd daar is. Mense wat nog altyd van haar musiek hou, kan nou weer daarna luister en dié wat dit nog nooit gehoor het nie, kan dit ontdek,” sê Irene-Louise aan Maroela Media.

Sy erken dat die herdenking van haar ma se afsterwe jaarliks vir haar ʼn moeilike dag is. “Die wond van my ma se dood sal altyd daar bly. ʼn Mens leer om oor die weg te kom sonder ʼn ma, maar dit raak  nie makliker nie.

“Dit is vir my ʼn riem onder die hart dat my ma se stem deur middel van digitale platforms nou lewendig gehou kan word.”

Irene se dogter, Irene-Louise, is self vandag ‘n Afrikaanse popster. (Foto: Jorietha Rabe)

Vaughn (34), pa van twee kinders, die agtjarige Kian en driejarige Avah, beaam sy suster se stelling en voeg by dat dit vir hom self moeilik is om na sy ma se musiek te luister.

“Dit is swaar. Soms probeer ek, ter wille van die kinders, om na ʼn liedjie van my ma te luister. Ek is wel bly dat daar van die musiek is wat nou alles op een plek is vir die kinders om na hulle ouma te kan luister.”

Hoewel die herdenking van sy ma se dood vir hom ook elke jaar ʼn moeilike dag is, sê hy dat hy dwarsdeur die jaar na sy ma verlang.

“Daar is 364 ander dae in die jaar waar dit my ook soms vang dat my ma weg is. Die kinders sal iets doen of ons sal op ʼn sekere plek wees, en dan sal iets gebeur wat my hartseer maak oor my ma.”

Volg die skakels vir Irene van Wyk se musiek op alle groot digitale platforms:

Lyne van jou lyfhttps://irenevanwyk.lnk.to/LyneVanJouLyf

All I Need is Musichttps://IreneVanWyk.lnk.to/AllINeedIsMusic

In U sporehttps://IreneVanWyk.lnk.to/InUSpore

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.