Gesogte musiekkonsert steun hospitale

Corlea. (Foto: Facebook)

Die gesogte musiekkonsert, Lexus Pop Classics, en DStv gaan kragte saamsnoer en ʼn gedeelte van die opbrengs van vanjaar se kaartjieverkope aan hospitale in Suid-Afrika skenk.

Lexus Pop Classics het oor die jare bekend geword vir sy musikale uitnemendheid. Van die voorste Suid-Afrikaanse kunstenaars is jaarliks op die verhoog met topgehalte opvoerings van poptreffers deur Whitney Houston, The Beatles, Joni Mitchell, Celine Dion en Bruce Springsteen.

Gehore wat vanjaar se konsert op 22 Julie by die SunBet Arena by Time Square in Pretoria bywoon, kan uitsien na kragvertonings deur Demi Lee Moore, Samantha Leonard, Tarryn Lamb, Ruhan du Toit, Monique Steyn, Corlea, Timothy Moloi, Boki, Amira Willighagen en die Mzansi-jeugkoor.

Konsertgangers wat ʼn bydrae tot die Making a Difference-inisiatief maak, help Lexus Pop Classics en DStv dus om die plaaslike gesondheidsorgstelsel te ondersteun. Die inisiatief verbind hom ook daartoe om die welstand van jong Suid-Afrikaners, wat ’n behoefte aan gehalte gesondheidsorg het, te verseker.

“Lexus Pop Classics is geëerd om hierdie filantropiese poging saam met DStv aan te bied. Ons glo in die transformerende krag van musiek en poog deur hierdie konsert om ʼn positiewe bydrae tot die gemeenskappe te maak,” sê Brendon Hargroves, uitvoerende vervaardiger.

DStv se verbintenis met die Making the Difference-organisasie benadruk die uitsaaier se ingesteldheid op sy korporatiewe sosiale verantwoordelikheid. Hiermee wil DStv begin om betekenisvolle verandering deur sy filantropiese werk teweeg te bring.

Die uitsaaier is bewus van die kritieke rol wat gesondheidsorginstellings vervul om die welstand van gemeenskappe te verseker. Daarom het DStv aktief begin om saam met hospitale en mediese organisasies te werk.

Die plan is om finansiële ondersteuning en hulpbronne beskikbaar te stel, en bewusmakingsveldtogte van stapel te stuur. Dit is in ʼn poging om die infrastruktuur van die Suid-Afrikaanse gesondheidsorgstelsel te versterk en toegang tot hoëgehalte- mediese dienste te verbeter.

Kaartjies vir Lexus Pop Classics is op iTickets beskikbaar. Konsertgangers wat die Making a Difference-inisiatief wil ondersteun, kan tot vier kaartjies vir ʼn minimum bydrae van R100 koop. Dié opbrengs word aan die Making a Difference-welwillendheidsorganisasie geskenk.

Kyk na hierdie video as lusmaker vir die konsert:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.