Hollywood: ‘Modern Family’-ster trou; Luciano Pavarotti vereer

Sarah Hyland en Wells Adams is getroud. (Foto: Sarah Hyland/Instagram)

Maroela Media bied vir jou ’n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

‘Modern Family’-ster trou

Sarah Hyland, bekend vir haar rol as Haley Dunphy in die komediereeks Modern Family, het op 20 Augustus met die werklikheidster Wells Adams getrou.

Die glansgeleentheid het afgeskop met ’n ete in die wyngrotte by Sunstone Vineyards in Santa Ynez, Kalifornië. Die egpaar se naaste familie en vriende het die geleentheid bygewoon.

Die troue het tussen die wingerde op die wynlandgoed plaasgevind.

“Ek het myself bly herinner dat ek vir Wells en die mense moet kyk,” het Hyland aan Vogue vertel. Adams verklap weer dat hy vreeslik gehuil het terwyl sy na hom toe aangestap gekom het.

Jesse Tyler, Hyland se Modern Family-medeakteur, het die seremonie waargeneem.

“Ek ken vir Jesse vandat ek 18 jaar oud was. Ons is al deur so baie saam. Dit was baie spesiaal om hom daar te hê,” het Hyland vertel.

Hyland het twee Vera Wang-rokke tydens die geleentheid gedra, een tydens die seremonie en een tydens die onthaal.

Dié paartjie het in 2017 op Instagram ontmoet. Die liefde het byna onmiddellik begin blom en hulle het in 2019 in Fidji verloof geraak.

Die egpaar het in 2019 reeds met troubeplanning begin, maar met die Covid-19-pandemie het Hyland besef as hulle ’n groot troue wil hou, sal hulle eers moet wag.

Joe Rogan onttroon op Spotify

Die hertogin van Sussex, Meghan Markle, het Joe Rogan onttroon as die toppresteerder op die podsendingsplatform Spotify.

Meghan Markle. (Foto: YouTube/Spotify)

Markle se nuwe podsending, Archetypes, het in ses wêreldmarkte, onder andere die VSA en die Verenigde Koninkryk, die nommereenposisie ingeneem.

Archetypes is ʼn woordspeling op haar en prins Harry se oudste kind, Archie, se naam en is een van verskeie winsgewende ooreenkomste wat die egpaar met media-instansies die afgelope twee jaar gesluit het.

Daar word beweer dat die stromingsreus die voormalige koninklikes $20 miljoen (ongeveer R340 miljoen) vir dié inhoud, wat twee jaar geneem het om die lig te sien, betaal het.

Sy het in die eerste episode van die reeks met die tennisster Serena Williams gesels.

‘Game of Thrones’-voorvolg reusebekendstelling

Aanhangers van die immergewilde Game of Thrones het alte gretig agter hul kassies ingeskuif om die eerste episode van die lankverwagte voorvolgreeks, House of the Dragon, te kyk.

Milly Alcock bekoor as die 15-jarige Rhaenyra Targaryen wat ‘n oog op die Ystertroon het. (Foto: @VENGERB3RG/Twitter)

Die eerste episode het 10 miljoen kykers gelok, wat dit die suksesvolste première van ’n HBO-reeks maak.

“Dit is wonderlik om te sien dat miljoene Game of Thrones­-aanhangers na Westeros teruggekeer het,” het Casey Bloys, inhoudshoof van HBO en HBO Max, gesê.

House of the Dragon beskik oor ’n ongelooflik talentvolle rolverdeling en span wat hul hart en siel in die produksie gestort het. Ons is in ekstase met kykers se positiewe reaksie en sien uit daarna om te deel wat George RR Martin, Ryan Condal en Miguel Sapochnik met hierdie seisoen beplan het.”

Kobe Bryant se vrou miljoene toegeken

Die weduwee van wyle Kobe Bryant, Vanessa, het $16 miljoen (sowat R269 miljoen) ontvang as skadevergoeding ná foto’s van die grusame ongelukstoneel deur polisiebeamptes en brandbestryders afgeneem en rondgestuur is.

Kobe Bryant (Foto: Keith Allison van Hanover, MD, USA via Wikimedia Commons)

Die 41-jarige Kobe en hul 13-jarige dogter, Gianna, asook ses familievriende is in Januarie 2020 in ’n helikopterongeluk dood.

Verlede November is daar besluit om $2,5 miljoen (sowat R42 miljoen) aan twee van die gesinne te betaal wat familielede in die ongeluk verloor het, maar Vanessa het geweier om te skik.

In trane het sy verlede week die getuiebank ingeneem en vertel hoe emosioneel skokkend dit vir haar was om die destydse LA Times-storie met die gesteelde foto’s te sien.

“Ek het uit die huis gehardloop en aan die kant van die huis gaan staan sodat die meisies [haar dogters] my nie sien nie. Ek wou net weghardloop…”

Sy vertel verder dat sy “uit die bloute getref is, verwoes en in die ruggesteek gevoel het”. Sy het ook verduidelik dat sy in vrees lewe dat die foto’s op sosiale media gaan opduik.

Sylvester Stallone skei

Ná 25 jaar se getroude lewe, skei Sylvester Stallone en Jennifer Flavin se paaie.

Die 54-jarige model het op 19 Augustus vanjaar in Florida ’n aansoek om egskeiding ingedien.

Sylvester Stallone en Jennifer Flavin skei. (Foto: Sylvester Stallone/Instagram)

“By inligting en oortuiging het die man betrokke geraak by die opsetlike uitwissing, uitputting en/of vermorsing van huweliksbates wat ’n negatiewe ekonomiese impak op die huweliksboedel gehad het,” het die dokument gelui.

’n Verteenwoordiger van Stallone het in ’n verklaring aan Hollywood Life gesê dat Stallone sy familie liefhet.

“Ons werk vreedsaam en privaat deur ons persoonlike kwessies.”

Luciano Pavarotti postuum vereer

Die operalegende Luciano Pavarotti is vandeesweek vereer toe ’n ster op die Hollywood Walk of Fame postuum aan hom toegeken is.

Christina Pavarotti, dogter van wyle Luciano Pavarotti, aanvaar sy ster namens die familie. (Foto: Valerie Macon/AFP)

Sy dogter, Cristina Pavarotti, aanvaar die ster namens haar pa en die res van hul gesin.

Die ster is sal een van duisende op die beroemde toeristepad wees.

Pavarotti het in 2007 op die ouderdom van 71 gesterf. Sy 43-jaar lange loopbaan sluit 15 Grammy-benoemings, vyf Grammy-toekennings en twee Guinness-wêreldrekords in.

Elton John, Britney Spears reik liedjie uit

Die popsangeres Britney Spears het uiteindelik na ’n lang musiekafwesigheid weer agter die mikrofoon ingeskuif.

Sy het kragte met die ikoon Elton John saamgespan om ’n gemengde weergawe van ’n paar liedjies op te neem, wat in die 1970’s deur John uitgereik is.

“Tiny Dancer” en “The One” se musiek en lirieke is gebruik om die nuwe enkelsnit, “Hold me closer”, te skep. Aanhangers sal ook die klanke van “Don’t go breaking my heart” herken.

Luister na “Hold me closer” hier:

 

Bronne: Vogue, LA Times, BBC News, Hollywood Life, Variety, CBS Los Angeles,

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.