Meghan Markle vertel oor brand in babakamer tydens SA besoek

‘n Skermgreep uit die voorskou van Meghan Markle se podsendingreeks. (Foto: Spotify/YouTube)

Meghan Markle, die hertogin van Sussex en vrou van Brittanje se prins Harry, het Dinsdag in die première van haar langverwagte podsendingreeks die angswekkende oomblik gedeel toe sy en haar man verneem het dat hul seun se babakamer aan die brand geslaan het tydens hul 2019-toer na Suid-Afrika.

Markle het dié verhaal aan haar gas en vriendin, die tennisster Serena Williams, vertel tydens die eerste episode van Archetypes, waarna tans op die musiekstromingsplatform Spotify geluister kan word.

Archetypes is woordspeling op haar en prins Harry se oudste kind, Archie, se naam en is een van verskeie winsgewende ooreenkomste wat die egpaar met media-instansies die afgelope twee jaar gesluit het.

Daar word beweer dat die stromingsreus die voormalige koninklikes $20 miljoen (ongeveer R340 miljoen) vir dié inhoud, wat twee jaar geneem het om die lig te sien, betaal het.

Luidens mediaberigte is ʼn Netflix-dokumentêr, asook prins Harry se memoir in aantog.

Volgens die hertogin wil sy met dié reeks “die vroue-ervaring” en “die bokse waarin vroue al geslagte lank geplaas is” ondersoek en ontrafel.

Tydens die uur lange eerste episode bespreek Markle en Williams, wat onlangs aangekondig het dat sy haar tennisraket vanjaar ná ʼn skitterende loopbaan gaan ophang, die idee van ambisie en hoe dit verskillend op mans en vroue toegepas word.

Harry en Meghan groet inwoners van Nyanga tydens hul besoek aan Suid-Afrika. (Foto: Courtney Africa/ANA)

Die hertogin het ook aan Williams verduidelik dat dié voorval, wat sy as een van die skrikwekkendste oomblikke van haar lewe beskou, plaasgevind het kort nadat die paartjie in Suid-Afrika geland het.

Klein Archie was skaars vier maande oud toe hy sy ouers na Suid-Afrika vergesel het en moes daarom saam met sy oppasser bly toe sy ouers ʼn amptelike besoek by die informele nedersetting Nyanga moes aflê.

“Die oomblik toe ons geland het, moes ons hom by hierdie wooneenheid aflaai waarin hulle ons laat bly het,” onthou sy. “Ons moes dadelik na Nyanga gaan en daar was hierdie oomblik waar ek op ʼn boomstomp staan ​​en hierdie toespraak vir vroue en meisies lewer. Kort daarna klim ons in die motor en hulle sê vir ons daar het ʼn brand in Archie se babakamer by die wooneenheid uitgebreek.”

Sy vertel verder dat Archie se oppasser, na wie sy slegs as “Lauren” verwys, die kleinding vir ʼn middagslapie moes neersit, maar honger was en gelukkig besluit het om hom eers saam met haar kombuis toe te neem vir ʼn peuselhappie.

“In daardie tyd wat sy afgegaan het, het die verwarmer in die babakamer vlam gevat,” het Meghan gedeel. “Daar was geen brandalarm nie. Iemand het toevallig net rook in die gang geruik en die brandblusser gegryp. Archie sou gedurende die brand in sy bedjie gewees het.”

(Foto: Spotify/YouTube)

Hoewel die voorval haar en prins Harry geruk het, is die egpaar volgens Markle gedwing om met hul pligte en verdere besoeke voort te gaan.

Sy het opgemerk dat dié voorval net een voorbeeld van die vele “menslike oomblikke” is wat sy openhartig in haar podsending wil deel.

Sy het verder verklaar dat sy “haarself gaan wees” en daarna uitsien dat mense haar kan leer ken deur haar eie woorde eerder as dié van die media.

Die hertogin en prins Harry het in 2020 die Britse koninklike lewe op ʼn skouspelagtige manier verlaat en sedertdien ʼn huis in Montecito, Kalifornië, ter waarde van $14,65 miljoen (ongeveer R238 miljoen) gekoop.

Bronne: AFP, Vanity Fair, People.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Oujongvrou ·

Bla bla bla. Hierdie vrou gaan treurmare op treurmare opsit. Daars geen lig in haar lewe nie net ellende.

miche ·

Welcome to the real South Africa!
Ek Sou nie my 4 maande oue baba eens by die Pous gelaat het as hy wel in SA was nie. En ‘n verwarmer sonder behoorlike toesig in ‘n baba-kamer ?

antieke antie ·

wys hoe lieg sy…. sy laat dit klink of sy in n agteraf kamertjie gebly het…. en ek glo sy self so dit daaityd uitgeblaker het

kaplyn ·

Jy is reg, sy laat dit klink of hulle in ‘n agteraf kamertjie gebly het. Die waarheid is dat hulle in die “British High Commissioner’s Home” gebly het. (Silvertrees in Kaapstad). Gaan Google “Garden frontage of Silvertrees”). Dit is ‘n luukse plek en as daar ‘n brand uitgebreek het by die ” High Commissioner’s Home” (en dit nogal Koniging Elizabeth se kleinkind se babakamer) sou dit wêreld nuus gewees het!

Ronel ·

Dit was ‘n olie heater wat rook afgegee het, geen brand nie, sy is ‘n Pinnochio

Elsie ·

Volgens google was hulle in September 2019 hier, nie een persoon op die foto’s het ‘n langmou hemp/trui aan nie, so hoekom is daar dan ‘n heater aan in die baba se kamer???

kaplyn ·

Nog een van die 21 leuns stories wat sy versprei. Nienand glo die vrou nie. Gaan lees maar die koerante van Europa, die VSA en Australie

Annelize ·

My presiese sentiment. Dis wat ek op ‘n internasionale mediablad ook gese het. DIt was September, en hier in SA loop ons lugversorgers reeds volstoom, weet nie so mooi waar die verwarmer inpas nie.

Leana ·

Die vrou sal ook enige iets doen en sê net om die lig op haar te laat skyn. Wens sy wil eerder iets produktiefs kry om haar besig te hou sodat sy kan ophou aandag soek.

Witbaard ·

Nie geweet sy dra nog die titel van hertogin van Sussex nie.

Vexed ·

Hulle behou hulle titels. Dit is die HRH wat hulle verloor. Harry kan ook nooit sy titel as Prins verloor nie. Dit is duidelik gemaak aan die begin.

Niklaas ·

Ongelukkig is dit die geval. Lewenslank is sy op die toneel , tot my swygende ergernis , want sy is een pyn met al haar pogings om publisiteit te kry. Dis nou sekerlik Harry se grootste fout , hierdie persoon.

Moedeloos ·

Op n boomstomp staan om die vrouens toe te spreek. Daar is baie kinders wat onder n boom moet skoolgaan so wat is haar probleem

Miena ·

ek dink as Harry met daai SA – Kaapstadse meisie eerder langer n verhouding aangehad het en getroud is dan sou daar nie soveel drama wees nie. Hierdie vrou moet maar liewer haar rol in Suits gaan terugvra en terugkeer na aktrise-wereld toe want sy doen nie goed in die werklike lewe as n aktrise nie. Jammer.

yahneh ·

Die hertogin van Sussex het net drie uitdrukkings – gekrenk, meer gekrenk en mees gekrenk.

antieke antie ·

hahaha ja en haar gehuurde en gereelde kameras het dit afgeneem

Vexed ·

Kyk, nou gaan sy drama pomp… dankie tog ek hoef nie na haar twak te luister nie.

Niklaas ·

Ek is verbaas dat sy nog nie hierdie verhaal vroeer opgeblaas en uitbasuin het om simpatie te wek nie. En dat die plaaslike boerenasie die skuldige brandstigters was nie. Maar daai sensasie sou seker te veel vir haar wees. Ek neem maar al haar bewerings met ‘n knippie sout.

Nettie ·

Indien dit gebeur het, dan is ek bly die baba was OK. Ek wens geen skade aan ‘n onskuldige kindjie nie. Maar watter ma los haar 4 maande oue babatjie in ‘n vreemde land, in ‘n vreemde huis, by ‘n vreemde oppasser? Hierdie is nie skokkend oor die voorval nie, maar oor hoe gemaklik sy erken watter swak besluite sy as ma geneem het! Ek gee nie om watter verpligting jy teenoor ander het nie, jou baba en sy veiligheid kom altyd, altyd eerste. Jy’s eerstens sy ma, daarna ‘n prinses of wat ookal!!!

Sandra ·

“wooneenheid waarin hulle ons laat bly het”, met daardie paar woorde is dit duidelik dat sy ‘n snob is. As sy wil ondersoek instel oor vroue ervaring, moet sy weet hoe dit met vrouens op elke vlak van die lewe gaan, nie net op haar vlak nie. Sy is ‘n moeilikheidmaker en klagat ekstraordiner. Dit het ek nou gesien toe sy op Oprah gepraat het. Wil almal verkla oor haar nare ondervindings ens. Sy kla steen en been oor die oppasser wat sy nogals in hakies op die naam noem. Niks sal ooit vir haar goed genoeg wees nie. Hertogin? Het sy en haar man nie die paleis oneien nie? Sal nie my tyd mors om na die poduitsending te luister nie.

Pieter ·

Eerste vraag is of sy regtig “op ‘n boomstomp” ‘n toespraak moes lewer? Sy was op daardie stadium steeds royalty, en sy sou definitief ‘n podium gekry het op ‘n verhoog. Maar sy moet dit laat klink of ons in Afrika nog nie twee bakstene op mekaar kon sit nie. Tweedens, hoe op dees aarde het hulle so insident uit die pers gehou, en hoekom? Niemand anders weet daarvan nie.
Hulle is so hoë profiel mense gewees, dat as niemand daarvan weet nie, het dit nie gebeur nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Nie eens pres. Trump hou van haar nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.