Hoop, liefde weerklink op nuwe Tuks Camerata-album

Die sterre was nog altyd ʼn bron van inspirasie vir digters, musikante en kunstenaars. Meer onlangs ook vir Tuks Camerata wat pas sy vierde album, getiteld Written in the Stars, uitgereik het.

Dr. Michael Barret, musikale direkteur van die Tuks Camerata-koor en vervaardiger van die album, sê die sterreruim se bekoring lê in die ontsaglikheid daarvan.

“Om na die uitgestrektheid van die naghemel met sy eindelose sterrestelsels te kyk, kan magies én eensaam wees: dit is maklik om hierdeur betower te word, of droomverlore te raak in sy oneindige skoonheid.

“Ons kyk dikwels hemelwaarts om vrede te vind, krag te vra, of om net aan die wonderlike glans wat ons omring, herinner te word,” meen hy.

Ná ʼn jaar van bekommernis, hartseer, isolasie en onsekerheid vul hierdie album die lug met hoop. Dit is eweneens ʼn viering van die klein glinsteringe van liefde en skoonheid wat in eenvoudige dinge sigbaar is, soos die sterre.

Barret se ma is in 2019 oorlede en dit was ook gedeeltelik die motivering vir hierdie album.

“Haar liefde vir astrologie en poësie weerklink in Written in the Stars. Die album is ook ʼn weerspieëling van liefde in verskeie vorme,” verduidelik hy.

Volgens Barret is hierdie album die hoogtepunt van ure lange toegewyde repetisies, optredes en opnames deur ʼn baie spesiale groep koorlede. Dit bevat ʼn treffende lys koorgunstelinge, asook ʼn paar spesiale Camerata-snitte.

Barret, ʼn wêreldbekende dirigent en komponis, help om die uiteenlopende koormusiek, wat wissel van tradisionele tot kontemporêre genres, na vore te bring. Tuks Camerata se vorige drie albums is almal vir Sama-pryse (South African Music Awards) genomineer.

Hulle het al saam met verskeie kunstenaars soos Katherine Jenkins, Susan Boyle, Nataniel, Joshua na die Reën en Corlea Botha opgetree, op SABC2 se Morning Live-ontbytprogram verskyn en by groot vertonings soos Huisgenoot Skouspel en die gesogte RMB Starlight Classics gesing.

Written in the Stars is op alle digitale platforms en op CD beskikbaar. Vir meer inligting hieroor, nader Helena Vorster by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.