Ilan se kinderlewe herleef in nuwe musiekvideo

Ilan van Staden (25), ook bekend as Superman in die derde seisoen van The Voice SA, stel vandag sy jongste musiekvideo vir die enkelsnit “Sonstraal” bekend.

Hy vertel dat die liedjie én die musiekvideo hom laat terugdink het aan vroeër dae in sy lewe.

Hy het juis die liedjie reeds ses jaar gelede geskryf en vanjaar eers weer daarop afgekom.

“Ek het afgekom op ʼn stemnota wat ek aan myself gestuur het, waar ek op my bed sit en kitaar speel het en dié liedjie sing. Toe ek dit nou, ses jaar later, weer hoor, het ek dadelik geweet ek wil dit opneem.”

Ilan sê hy het die liedjie geskryf vir ʼn meisie op wie hy baie verlief was op universiteit, en hoewel hy nie meer so voel nie, is dit steeds vir hom ʼn baie mooi lied.

“Ek hoop die lied sit ʼn glimlag op mense se gesig. Ek wil hê mense moet na die lied kan luister met hul ore, maar ook met hul harte.”

Ilan se debuut enkelsnit, “Elektries” is in Maart vanjaar bekendgestel en hy is tans besig om te werk aan nog liedjies om later ʼn kortalbum uit te reik.

Die maak van die musiekvideo het ook baie herinneringe vir die sanger teruggebring.

Ilan (Foto: Verskaf)

“As kind het ek grootgeword met huisvriende wat op ʼn plaas teen die Vaalrivier woon, en ons het toe die musiekvideo daar gaan skiet.

“Dit was so nostalgies om 20 jaar later weer al die vriende saam op die plaas te hê waar ons jare van tevore in doeke saam gekuier het. Al die kinders wat destyds vriende was, is almal weer terug in die musiekvideo. Dit is vir my so spesiaal en sentimenteel.”

Die musiekvideo vir “Sonstraal” wys ʼn man wat regtig graag by ʼn meisie wil uitkom, en hy sal alles in sy vermoë doen om by haar te wees. Sy is op die plaas en hy probeer van die stad terug plaas toe gaan om by haar te wees.

Ilan sê hy is opgewonde oor sy volgende enkelsnit omdat hy daarin die geleentheid kry om sy kletsrym-vermoëns ten toon te stel. Hy beoog om dié nuwe lied genaamd “Koue pizza” teen die einde van vanjaar uit te reik.

Volg Ilan hier op Facebook.

Kyk die musiekvideo vir “Sonstraal” hier eerste op Maroela Media:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.