Inspirasie Veelvoud bekoor met goue oue

Nico van Vuuren, oftewel Inspirasie Veelvoud. (Foto: verskaf)

“Ons het grootgeword met die liedjies. Ons oumas, oupas, pa’s en ma’s het dit gespeel.”

Só gesels Nico van Vuuren, die man agter Inspirasie Veelvoud, oor sy verwerking van die bekende en immergewilde Koos du Plessis-liedjie, “Kinders van die wind”.

Nico, wat ook vandeesweek ’n Afri-Indie-toekenning vir die beste Afrikaanse liedjieskrywer ingeoes het, is trots om dié liedjie aan mense bekend te stel. Nie net wil hy Koos du Plessis vereer nie, maar ook mense uit verskillende generasies om een tafel byeen laat kom.

“Die melodie is dieselfde, ek het net ’n moderner benadering tot die liedjie geneem.

“Op die ou einde gaan dit daaroor om liefhebbers van Afrikaanse musiek byeen te bring.”

Inspirasie Veelvoud, wat aanvanklik ’n duo was voordat dit slegs Nico geword het, pryk ná die uitreiking van “Kinders van die wind”, met drie liedjies agter sy naam.

Nico is dankbaar dat sy vorige enkelsnit, “Woorde in my dagboek”, ook aandag getrek het en tientalle luisteraars gelok het.

“Daar is twee liedjies wat reeds reg is om uit te reik, ek wag net vir die regte tyd,” vertel Nico, ’n onafhanklike kunstenaar wat op eie onkostes in die musiekbedryf werksaam is.

Voordat Nico besluit het om sy weergawe van “Kinders van die wind” uit te reik, het hy die oorspronklike uitgewers van die liedjie, Inclince Music, opgespoor. Dié organisasie staan steeds aan’t stuur van Koos du Plessis se portefeulje en het vir die Nico die groen lig gegee om met sy eie uitreiking voort te gaan.

“Ek vertrou dat mense aanklank by die liedjie gaan vind. Dit is ’n verfrissende aanslag op ’n fantastiese lied.”

Luister na Inspirasie Veelvoud se weergawe van “Kinders van die wind” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.