Jannie du Toit en Leon Gropp: ‘Smulpape van musiek en taal’

Leon Gropp, voorheen lid van die instrumentale groep CH2, en Jannie du Toit, baanbreker van Afrikaanse musiek, bied eersdaags ʼn gesamentlike produksie, Smulpaap, aan.

Gropp en Du Toit erken daarmee dat hulle lewensgenieters is – smulpape van musiek en taal. “Ons het agtergekom dat ons albei ouens is wat nie van die gewone kos hou wat gereeld tafel toe gebring word nie,” verduidelik Du Toit aan Maroela Media.

“Toe Johannes Kerkorrel destyds begin het met sy alternatiewe beweging, is sy album Eet kreef uitgereik en dit het my vreeslik daaraan laat dink,” skerts hy. “Ek en Leon hou van die soort smake wat nie elke dag geproe word nie en ons wou ʼn produksie aanbied waarin ons dit vir mense kan voorsit.”

Hoewel die twee musikante mekaar lank reeds ken, het hulle nog nooit voorheen saam musiek gemaak nie. Nietemin het hulle deur gesprekke agtergekom dat hulle soveel raakpunte het wat musieksmaak betref.

“Ons gaan werke van woordkunstenaars soos NP van Wyk Louw en musikante soos Christa Steyn, Koos du Plessis, Lucas Maree en Jacques Brel ten toon stel, maar ons het besluit dat ons die klem wil lê op ons se eie materiaal. Dit is hoofsaaklik nuwe komposisies uit ons eie pen en kitaar: kos vir die fynproewer,” sê Du Toit.

“Al is Leon soveel jonger as ek, is hy al 15 jaar in die bedryf en ons het gevoel ons is op dieselfde musiekpad. Leon het jare lank vreeslik gefokus op instrumentele musiek, maar dit was vriend Coenie de Villiers wat hom aangespoor het om ook te sing, want hy het ʼn ongelooflike mooi stem.”

Die produksie word vir die eerste keer in die Atterbury-teater in Pretoria aangebied op Maandag 8 April. “As ons dit weer kan aanbied sal dit heerlik wees, maar vir nou het ons nog net die enkele aanbieding in Pretoria in die pyplyn,” sê Du Toit.

Du Toit en Gropp sal op die verhoog ondersteun word deur Du Toit se gevestigde ensemble, wat bestaan uit Susan Mouton (tjello), Chanie Jonker (klavier) en Theuns Botha (tromme). Gropp se gereelde pianis, Marcel Dednam, sluit by hulle aan.

“Marcel het my so beïndruk toe ek hom die eerste keer hoor speel het; hy is ʼn fantastiese pianis,” sê Du Toit. “Dit was eintlik Susan wat die eerste keer Leon se musiek vir my gespeel het, want sy het tjello gespeel vir sy album, Rooidag. So dit gaan so lekker wees dat sy vir ons albei speel op die verhoog en ek gaan saam met hom op die verhoog harmoniseer, so ons het letterlik ʼn mengsel gemaak van dít wat ons aan te bied het.”

Smulpaap word op Maandag 8 April om 20:00 in die Atterbury-teater in Pretoria aangebied. Kaartjies is beskikbaar by iTickets en kos van R150 tot R170. Navrae: 012 942 5951.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.