Jo Black braai dié Desember op klein dorpies

Jo Black braai dié Desember op klein dorpies.

Die bekende sanger Jo Black is slaggereed om weer die land se mense op die voete te kry, maar dié keer gaan hy dit om die braaivleisvuur doen.

Jo en sy orkes gaan in Desember ʼn sogenaamde Jo Black Traveling-toer saam met Weber onderneem waar hulle talle klein dorpies oor die hele Suid-Afrika sal besoek om musiek te maak en ‘n vleisie te braai.

Dié vakansie sal mense op afgeleë dorpies waar daar nie gewoonlik vertonings of groot konserte aangebied word nie, die geleentheid kry om saam met Jo te kuier en te braai terwyl hy en sy musiekvriende vir die vermaak sorg.

Jo vertel aan Maroela Media die idee vir dié projek het ontstaan toe hy besef het dat almal moet sit en wag vir hulle dagboeke om vol te raak met besprekings en dat hy die vertoning na die mense toe moet vat waar daar nie altyd geleentheid daarvoor is nie.

“Die groot feeste is gewoonlik op die groot dorpe en in stede, so daarom het ons besluit om die kleiner dorpies te verken terwyl ons al singende om die braaivleisvuur staan,” sê Jo.

Vanjaar sal musiek- en braailiefhebbers van Vryburg, Potchefstroom en Bethlehem saam met Jo en sy orkes kan kuier.

“Die hele konsep is om saam met die mense in die BBP-gebied te braai. Daar bring ek Weber se nuwe Traveler-gasbraaiers, ek bring die vleis, ek bring die drinkgoed en die ys. Sambrele, stoele en tafels. Dit is ook ’n lekker geleentheid vir mense wat nooit die kans kry om tyd saam met musikante deur te bring nie, om saam te kuier en mense beter te leer ken,” sê Jo.

“Vir die mense wat nie die BBP-kaartjies koop nie, is daar kosstalletjies en drinkgoed beskikbaar, al wat hulle moet saam bring is ‘n lekker gees en hulle eie stoele. Ons probeer vir almal sorg wat die geleentheid bywoon.”

BBP-kaartjies kos R2 000,00 en sluit in toegang vir vier tot ses mense, 18 biere van SAB en 2 kg beesfilet wat saam met bykosse voorgesit word.

Die toerdatums lyk soos volg:

  • 14 Desember – Vryburg, Noordwes – Hoërskool Vryburg Gert Lubbe-stadion
  • 15 Desember – Potchefstroom, Noordwes – Laerskool Baillie Park
  • 16 Desember – Bethlehem, Vrystaat – Texas Bar & Grill

Kaartjies is beskikbaar by iTickets.

Klik hier om ‘n video te sien oor presies hoe dit werk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.