Jo Black dra jongste enkelsnit aan sy vrou op

Agter die skerms tydens die skiet van Jo Black se jongste musiekvideo, "Bitter". (Foto: Verskaf)

Agter die skerms tydens die skiet van Jo Black se jongste musiekvideo, “Bitter”. (Foto: Verskaf)

“Dit is my vrou se gunstelingliedjie,” sê die bebaarde Afrikaanse sanger Jo Black oor sy jongste enkelsnit, “Bitter”, wat vandeesweek die klankgolwe getref het.

Hy het dié rock-ballade vir sy vrou, Debbie, geskryf.

“Sy is só mal daaroor, dit het amper vir my ʼn derde kind veroorsaak,” skerts Black, wat in Februarie vanjaar sy tweede vollengte album, Voel jy die genade, uitgereik het. “Bitter” is op dié album te hoor.

“ʼn Mens besef nooit hoe nodig jy iemand het totdat daar ʼn kans is dat jy daardie persoon kan verloor nie,” verklap Black in ʼn onderhoud met Maroela Media. Hy het die snit saam met Johan Vorster geskryf.

“Die liedjie is basies ʼn hele gesprek tussen my en my vrou, waar ek vir haar sê ek is kwaad omdat ek nie meer ʼn bachelor is nie, maar dat ek ook bly is sy het my van die mark afgehaal,” lag hy.

Agter die skerms tydens die skiet van Jo Black se jongste musiekvideo, "Bitter". (Foto: Verskaf)

Agter die skerms tydens die skiet van Jo Black se jongste musiekvideo, “Bitter”. (Foto: Verskaf)

“‘Bitter’ is vir my een van die mees beskrywende woorde in Afrikaans. Jy kan bitter kwaad, bitter bly, bitter mooi, bitter stout of bitter lief wees. Hierdie is ’n lied om vir my vrou te beskryf hoe bitter nodig ek haar het,” sê Black.

“Ek hoop die publiek ervaar ook die dieper emosie agter die musiek. Ons het immers al almal ons hart op iemand verloor.”

Die musiekvideo, wat Vrydagoggend amptelik uitgereik is en reeds meer as 6 000 trefslae op YouTube het, is deur Daniel Rademeyer en Jannes Erasmus vervaardig. Die video is geskiet in Black se teater-restaurant, The Bearded Butcher, en beeld die kontras tussen mans en vroue uit.

The Bearded Butcher sal die hartklop wees van die lewendige vermaakgedeelte van die Ultimate Aim Sports Pavillion wat op 31 Mei sy deure in Montana Park, Pretoria, oopmaak. Dié gesinsvermaaksentrum sal die grootste in Suid-Afrika wees.

Nie net gaan dit dié plek wees waar sportgeesdriftiges bymekaar kan kom om hulle vaardighede in die gewildste buitelugsportsoorte – waaronder gholf, boogskut en visvang – te kom opskerp en ten toon stel nie, maar ook ʼn bestemming waar gesinne aan uitsoekgeregte kan smul en ook verskeie vorme van vermaak op die verhoog kan geniet.

Agter die skerms tydens die skiet van Jo Black se jongste musiekvideo, "Bitter". (Foto: Verskaf)

Agter die skerms tydens die skiet van Jo Black se jongste musiekvideo, “Bitter”. (Foto: Verskaf)

Die sentrum, wat besit word deur drie maatskappye en onder meer Black en die Suid-Afrikaanse krieketheld Albie Morkel, se openingsgeleentheid gaan gevier word met ʼn vertoning deur Black en kaartjies sal beskikbaar gemaak word vir die publiek om die geselligheid by te woon.

The Bearded Butcher was die naam van ʼn biltongbesigheid wat Black lank gelede besit het. Nou is dit vir hom sinoniem met ʼn groot droom wat bewaarheid word – die opening van sy eie teater-restaurant wat verskeie vorme van die kunste na die verhoog gaan bring – van musiek tot verhoogproduksies met aansitetes en selfs komediantvertonings.

“Ek bly self in Montana en daar is beslis ʼn behoefte aan ʼn plek waar jy musiek en teaterproduksies kan gaan kyk. Ons gaan probeer om een keer per week ʼn groot naam in te kry wat ʼn intieme vertoning gaan doen, met tafels wat lekker naby die verhoog is sodat die gehoor die musikant beter kan leer ken.

Jo en sy vrou, Debbie Engelbrecht. (Foto: Facebook)

Jo en sy vrou, Debbie Engelbrecht. (Foto: Facebook)

“Ons gaan ʼn klein spyskaart hê, met uitsoekgeregte wat uniek gaan wees aan ons restaurant met sy rustieke dekortema. Daar is ʼn groot speelplek om die kinders mee besig te hou en daar gaan ook verskeie kuieropsies wees om aan enige kliënt se vereistes te voldoen.

“Die restaurant-area gaan wees vir diegene wat rustig wil kom eet van ons a la carte-spyskaart af, terwyl drankies en tapasborde, met ʼn eg Suid-Afrikaanse aanslag, in die tapaskroegarea bedien sal word vir klante wat ʼn minder formele kuier verkies. Eksklusiewe BBP-bokse, met gemaklike rusbanke, sal ook aan die bokant beskikbaar wees. Die verhoog sal vanuit elke area gesien kan word.”

Black se tweede album, Voel jy die Genade, is in Februarie vanjaar uitgereik en het binne die eerste tien dae vanaf sy vrystelling goue status bereik. Die eerste gelyknamige enkelsnit pryk reeds sedert Januarie op die trefferparades van radiostasies landswyd en die musiekvideo spog met meer as 860 000 kyke op YouTube.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Leona ·

Mooi gedoen Jo! Soos altyd! Trots om ‘n ondersteuner van jou te wees en die pragtige mens wat jy is raak te sien. Ek weet nie of ek moet sê Debbie is ‘n gelukkig vrou nie, ek dink eerder jy is ‘n gelukkige man met ‘n pragtige vrou! Doen so voort! !!

? leser ·

die woorde is so voorspelbaar, en die herhaling van alles, so die musiek en lied is net sowat 1minuut en 20 sekondes lank, wat ‘n agteruitgang met alle verwerkings

Annelize ·

Joe is my en my man se gunsteling-sanger in Afrikaans. Ons sien uit na jou show in Oktober!

‘Bitter’ is definitief ook my gunstelinglied. Hou so aan!

Die ander kan maar gaan vlieg wat negatiewe kommentare geskryf het.

Jan Alleman ·

Siener, en vir elkeen wat loop is daar twee wat bykom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.