Klein maar getryn

Klein-maar-getryn

Leo Gevisser saam met sy klavieronderwyser Nina Schuman. Foto: Howling Hound Photography/Atterbury Trust

Die 12-jarige Kapenaartjie Leo Gevisser is die jongste wenner nog van die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie, wat onlangs by die Atterburyteater plaasgevind het. Die Atterbury Trust gesels met hierdie wonderkind se klavieronderwyser, Nina Schuman.

Hoe lank speel Leo al klavier en hoe lank neem hy al klas by jou?

Ek en my man gee die afgelope twee jaar vir hom onderrig, maar hy speel klavier vandat hy so vyf of ses was. My man fokus op die tegniese aspekte en ek gee aandag aan die musikale aspekte. Hy kom elke Saterdagoggend vir twee uur, en ons werk apart aan verskillende elemente van sy repertorium.

Wat verg dit van hom om so besonders te presteer? Sy ouers moet hom baie ondersteun.

Sy familie is geweldig ondersteunend, veral sy ma wat hom rondry na al sy verpligtinge. Hulle woon 40 minute van waar ons is – so, dit vat behoorlik toewyding. Die familie is baie talentvol; sy oom is die skrywer Mark Gevisser en sy grootouma was ’n konsertpianis in Durban. Sy jonger boetie is net so musikaal.

Hoeveel uur per dag oefen hy?

Hy oefen te min! Die ding is, Leo is baie intelligent en akademies baie sterk, en hy is in Bishop’s wat ’n baie mededingende skool is. So, hy het baie uiteenlopende aktiwiteite wat hom besig hou. Sy ouers maak seker dat hy gebalanseerd is. Hy oefen so twee uur per dag klavier, maar hy moet eintlik meer oefen. Hy het gegroei van iemand wat ’n “tutor” gehad het wat by hom gesit het, tot iemand wat self oefen, en dit is deel van sy groeiproses dat hy vir homself metodes moet aanleer om doeltreffend te oefen. 

Wat is sy sterk punte?

Sy oor vir musiek is uitstekend, wat beteken hy kan van gehoor af speel, en hy het nooit geheueprobleme nie. Hy is van nature uiters musikaal … musiek is wie en wat hy is.

En sy uitdagings?

Hy is nog baie jonk en klein gebou. Ons probeer dus nou daarop fokus om hom sterker te maak en sy stamina te bou. Hy moet fisiek groter wees met meer stamina om ’n groter klank te kan produseer. Sekere tegniese aspekte is pianisties gesproke vir hom nog baie harde werk. Sy familie het die week voor die Atterburykompetisie gaan vaar op die Oranjerivier, en sy ma is oortuig die geroeiery het sy spiere sterker gemaak, en dat dit hom gehelp het om te wen!

Hoe motiveer jy so ’n jong kind om so hard te werk?

Aan die een kant hoef ons nie te hard te werk nie, want hy is gelukkig voor ’n klavier. Hy is wel nie mal oor oefen nie, en hy is ongelooflik slim – so, hy is geneig om tot so 95% te werk en dan verveeld te raak. Jy moet hom aanmekaar uitdaag.

En hoe berei ’n mens voor vir so ’n kompetisie?

Dis ’n lang proses, minstens ses maande se voorbereiding. Ons laat ons lei deur die spesifieke kompetisies en musiekgebeure wat landwyd deur die jaar gebeur, en beplan dienooreenkomstig.

Speel hy vir elke kompetisie iets anders of het hy ’n gunstelingstuk?

As ’n mens leer klavier speel, tot die ouderdom van so 18, is daar werke wat jy aanstudeer wat jy nooit weer sal speel nie; dis deel van die leerproses. Hy is nou aan die begin van daardie stadium. Vir die Atterburykompetisie het Leo altesaam vyf stukke gespeel, in die verskillende rondes, en ’n mens kies hulle só dat daar 50% is wat hy kan speel, en 50% wat hy nie kan speel nie – so daag jy hom uit om ’n trappie op te gaan. Ons moes stukke kies wat pedagogies goed is vir hom, maar wat ook werk as kompetisiestukke. Twee van die stukke het uitgestaan – een van hulle ’n Bach Sarabande wat ek met hom gedoen het, wat baie stadig is en nie vinnige vingers wys nie, maar wel musikaliteit toon, en hy het dit wonderlik uitgevoer. My man het ’n baie moeilike moderne stuk van die Russiese komponis Kapustin met hom gedoen, wat Leo twee maande voor die kompetisie nog nie kon speel nie. Ons het later gewonder of ons iets anders moet kies, maar Leo wou deurdruk en dit het sy gunstelingstuk geword, en hy’t dit so goed gespeel!

Het hy gedink hy gaan wen? Wat was sy reaksie?

Nee, hy kon dit nie glo nie! Ons het gereken hy staan ’n kans om sy ouderdomskategorie te wen, maar ons het dit gesien as ’n proeflopie. Daar was geen verwagting dat hy met die algehele prys sal wegloop nie. Sy hele familie was daar om hom te ondersteun, maar ons was oorsee en sy ma het my dadelik gebel om die nuus te vertel … ’n hele paar kragwoorde het ingesluip! Leo kon skaars praat, hy was totaal oorstelp! 

Enige benul wat hy met sy prysgeld gaan doen?

Hy gaan tien teen een Lego koop! Hy is versot op Lego, en nie sommer enige Lego nie!

So, al is hy so briljant, bly hy nog ’n kind?

Ja, ’n mens vergeet dit soms, totdat hy tussen lesse vra vir Cream Soda!

Watter ander pryse het hy al gewen?

Hy het die tweede prys in die Samro/Hubert van der Spuy Nasionale Musiekkompetisie gewen, wat vir alle instrumente is.

Wat is nou die volgende stap?

Omdat hy nou gewen het, sal ons volgende jaar minder kompetisies doen, wat hom meer tyd gee om sy repertorium in te studeer. Maar hy gaan volgende jaar hoërskool toe en moet tyd hê om daar sy voete te vind. Ons wil die tyd wys gebruik.

En op langer termyn?

Dit is ons werk om hom soveel moontlik te help ontwikkel en sy repertorium uit te bou, om hom uit te daag. Hy speel tans programme wat so 20 tot 25 minute lank is, maar vir ’n konsert moet hy 75 minute kan speel. Hy groei ook nog, so sy handgrootte sal verander sodat hy algaande meer ingewikkelde stukke kan instudeer. As sy onderwyser is dit ’n groot verantwoordelikheid om met iemand so jonk en so talentvol te werk, jy moet versigtig wees met die pad wat jy met hom volg. Ons werk gewoonlik met universiteitstudente, en die voorreg van iemand so jonk soos hy is dat ’n mens hom vroeër op ’n bepaalde pad kan sit sodat hy later nie soveel hoef te sukkel nie.

Wat hou die toekoms vir Leo in, dink jy?

Musiek is professioneel beslis sy rigting; hy sal definitief verdere studie oorsee aanpak. Hy het ’n goeie kans om ’n internasionale loopbaan te hê. My droom vir hom is dat hy ’n konsertpianis word wat uiting kan gee aan sy gevoelens en die musiekklanke in sy kop. Dis ’n moeilike pad om te volg, maar ek glo hy sal dit bereik.

So lyk vanjaar se Atterbury Klavierkompetisiewenners:

  • Algehele 1ste plek: Leo Gevisser
  • Algehele 2de plek: Rosemarie Lemmer
  • Algehele 3de plek: Cindy Ju
  • Wenner 12 jaar en jonger: Leo Gevisser
  • Wenner 15 jaar en jonger: Louis Nel
  • Wenner 19 jaar en jonger: Rosemarie Lemmer
  • Beste uitvoering van ’n Barokwerk: Leo Gevisser
  • Beste uitvoering van ’n Klassieke werk: Rosemarie Lemmer
  • Beste uitvoering van ’n Romantiese werk: Landi Schaap
  • Beste uitvoering van ’n Moderne werk: Leo Gevisser
  • Beste uitvoering van ’n Suid-Afrikaanse werk: Swunhtat Oo

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae