Kom luister na Sheila Cussons-gedigte

Foto ter illustrasie (Foto: Thirdman/Pexels)

Die Klinkklaar Vokale en Instrumentale Ensemble, onderleiding van die komponis en dirigent Joanita Erasmus-Alt, hou vandeesweek ‘n huldigingskonsert in Bloemfontein. Die konsert is ter herdenking van die digter Sheila Cussons wat vanjaar op 9 Augustus ʼn 100 jaar oud sou word.

Die program is saamgestel uit toonsettings van Cussons se gedigte wat met brokkies inligting oor haar lewe vervleg word. Dit sluit in haar bekoring met engele, die digterlike gesprek tussen Cussons en NP van Wyk Louw, mistieke ervarings, en die ernstige brandongeluk wat haar gestremd gelaat het.

Gehore kan uitsien na toonsettings van “Besoeking”, “Afskeidsvers aan NP van Wyk Louw”, “Afskeid”, “Die sagte sprong”, “Gebed”, “As jy luister” en “Komma”.

Cussons is in haar loopbaan as digter met talle literêre pryse vereer, onder meer die Hertzogprys in 1983 vir haar oeuvre wat uit 11 bundels bestaan.

Die Klinkklaar Vokale en Instrumentale Ensemble is in 2020 gestig toe ʼn groep vriendinne in ʼn aanlyn konsert, wat vir die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) opgeneem is, opgetree het.

Altesaam een-en-twintig gedigte wat oor een of ander vorm van inperking en afsondering handel, is in twee episodes op die SAAWK se Facebook-blad uitgesaai. Sedertdien beywer die groep, wat uit 16 lede bestaan, hulle deur hul sang vir die bevordering van Afrikaanse poësie.

Aangesien die meeste van lede ook musiekinstrumente bespeel, word alle instrumentale begeleidings, asook agtergrondmusiek by gedigvoorlesings, deur hulle self uitgevoer.

Die groep bestaan uit Lesley-Ann Mathews (klavier), Carine Oosthuizen (sopraan 1), Lené Griessel (sopraan 1, blokfluit), Marian Labuschagne (sopraan 1, viool), Velka Laubscher (sopraan 1), Betsie Human (sopraan 2, voordraer), Christa Maree (sopraan 2, perkussie), Lané Rossow (sopraan 2, blokfluit), Liesbeth Louw (sopraan 2, programleier), Annelize van der Merwe (alt, programleier), Estia Kruger (alt, blokfluit), Ezelle Erasmus (alt, viool), Louwna Erasmus (alt, kontrabas), Maria Yazbek (alt, viool) en Marsha Oberholzer (alt, altviool).

Op Dinsdag 9 Augustus om 10:30 word die program by die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Noordhoek aangebied.

Toegang tot die konsert is gratis met vrywillige donasies ten bate van die ensemble. Die konsert word deur die Kunstetrust geborg en vind onder beskerming van Die Vriende van NALN en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns plaas.

Om die kaartjies te koop stuur ʼn e-pos na Joanita Erasmus-Alt by [email protected] of skakel haar by 082 886 1888 om meer te wete te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.