Laaste Angie Oeh-snit ‘volsirkel oomblik’ vir Peach van Pletzen

Peach van Pletzen en Angie Oeh. (Foto: Peach van Pletzen/Instagram)

In haar 20 maande lange loopbaan, het Angie Oeh ʼn hele rits eerstes gehad.

Nie net het sy haar eerste liedjie en kortalbum uitgereik nie, maar sy het ook vir die eerste keer gevlieg en vir die eerste keer die see gesien.

Angie het ook twee keer ʼn stryd teen kanker gevoer, ʼn stryd wat sy in Augustus vanjaar verloor het.

Angie en die musikant Peach van Pletzen was besig om aan nuwe musiek te werk toe sy in die hospitaal opgeneem is. “Ons lewe is net ʼn spoor,” is die laaste woorde wat Angie opgeneem het, onthou hy. “Dit is eintlik mal om te dink wat sy alles in haar kortstondige loopbaan gedoen het,” sê Peach aan Maroela Media.

“Sy het mense uitgedaag om buite die boks en hul eie verwysingsraamwerk te dink.”

Terwyl hy die Saterdagaand van Angie se dood van die hospitaal af huis toe gery het, het Peach besef dat die liedjie nie onvoltooid gelaat kon word nie. Hy was reeds die volgende Sondagoggend in die ateljee om klaar te maak waarmee hulle begin het.

“Dit was ʼn katarsis en ‘n moeilike oomblik, maar dit was nodig. Dit was ʼn volsirkel oomblik.”

As ʼn mens Peach se 20 jaar in die musiekbedryf in ag neem, is dit maklik om aan te neem dat hy as mentor vir die 24-jarige Angie opgetree het. Tog weet hy vandag dat sy hom eintlik baie meer geleer het as wat hy haar ooit kon leer, sê hy.

“Mense wat nuut in die bedryf is, het hierdie vuur en passie binne hulle. Ons ouens wat dit al langer as 20 jaar doen, sien ons werk dikwels as muscle memory.

“Angie het daardie vuur, daardie passie vir musiek, weer by my laat vlamvat. Sy kon dalk uit my ervaring leer, maar sy het my geïnspireer.”

In haar kort loopbaan het Angie en Peach baie na aan mekaar geword. Dit was eintlik onafwendbaar en die kreatiewe proses van musiekmaak, skep en verg intimiteit.

“Wanneer jy ure saam met iemand in die ateljee deurbring, besig om liedjies te skryf en op te neem, word jy weerloos. Jy word baie blootgestel, veral as dit nuut is vir jou,” sê hy.

“En dit was so nuut vir haar. Dit was nie haar duisende keer in die ateljee nie, dit was alles eerstes. Ek was daarvan bewus en het haar so gemaklik moontlik laat voel. Ons het ʼn wedersydse respek vir mekaar gehad.”

Angie Oeh toe sy met fase 4-longkanker gediagnoseer is. (Foto: Facebook/Angie oeh)

Met hierdie laaste liedjie, “Vir Angie (Ons lewe is net ʼn spoor)”, hoop Peach om sy eie beeld van Angie met mense te deel.

“Ek het nog altyd ʼn goedhartige, beeldskone mens vol liefde gesien. Ek wou dit wat ek gesien het, in ʼn liedjie vasvang.”

Van Pletzen, Peach se elektroniese musiekgroep saam met Yo Nax, wie se regte naam Matthieu Auriacombe is, het pas die akoestiese weergawes van hul liedjies “Zaberfluten” en “Dit is wat dit is” uitgereik.

In dié liedjies is die elektroniese lae weggestroop, met ʼn rou, eerlike liedjie wat oorbly.

“Daar is ʼn wanpersepsie dat elektroniese musiek net oor die ritme gaan. Ons wou die liedjies skoonmaak, en ons wil nog meer liedjies so doen.

“Dit is belangrik om jouself uit jou gemaksone te druk, en deur hierdie liedjies te vereenvoudig, is dit wat ons doen. As jy 23 liedjies op een album sit, is dit ook belangrik dat nie almal dieselfde klink nie.”

Die derde seisoen van Peach se geselsprogram, Praating, sal ook eersdaags op YouTube te sien wees. In dié seisoen verwelkom hy onder meer Rian van Heerden, Neil Sandilands, Jo Black, Aletta Francina de Kock, Refentse en Dricus du Plessis.

Dit is vir Peach belangrik om te midde van sy hartseer oor Angie se afsterwe, die ligte dele van die lewe ook te waardeer.

“Die lewe is ʼn cocktail van golwe. Geluk en hartseer is nie teenoorgesteldes nie, dit hardloop parallel.”

  • Luister hier na “Vir Angie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.