Angie Oeh (24) sterf

Angie Oeh is minder as ‘n week gelede met fase-4 longkanker gediagnoseer. (Foto: Facebook/Angie oeh)

Die jong kletsrymer en musikant Angie Oeh is dood nadat sy minder as ’n week gelede met fase 4‑longkanker gediagnoseer is. Sy was maar 24 jaar oud.

Oeh, wie se regte naam Angelique Greeff is, is laat Saterdagmiddag in die Life Wilgers-hospitaal in Pretoria dood. Haar ma, haar verloofde en die sanger Peach van Pletzen, ’n goeie vriend van Oeh, was by haar in haar laaste oomblikke.

Volgens Van Pletzen het Oeh ten tyde van haar dood nie pyn gehad nie.

“Ons liefste Angie is weg,” skryf die musikant vanoggend in ’n inskrywing op Instagram oor sy vriendin.

“Sy was ʼn incredible mens wat in ʼn baie kort tyd ʼn groot impak op baie mense se lewens gemaak het. En onder daai seemingly tough exterior was een van die sagste en mooiste mense wat ek al ooit teëgekom het.

“Net laas week was sy nog in studio en in die laaste song wat sy opgeneem het sing sy die liriek ‘die lewe is net ʼn spoor’. Angie, jy het ʼn diep spoor gelos in my en baie van ons se harte.”

Peach van Pletzen en Angie Oeh. (Foto: Peach van Pletzen/Instagram)

Oeh is verlede week in die Life Wilgers-hospitaal opgeneem waar sy gister (Saterdag) om 17:24 dood verklaar is.

Louise Crouse, Oeh se publisiteitsbestuurder, sê Oeh is Maandag (14 Augustus) met fase 4-longkanker gediagnoseer en het Dinsdag ’n noodoperasie ondergaan.

Teen Donderdag het sy met chemoterapie begin.

“Na die tweede chemosessie op Vrydag 18 Augustus het sy begin sukkel met lae suurstofvlakke in haar bloed en sy is in die hospitaal se waakeenheid opgeneem. Daar is alles moontlik gedoen om haar te stabiliseer, maar ongelukkig het dinge net nie beter gegaan nie en het haar organe begin ingee,” sê Crouse.

Oeh se bestuurspan het vandeesweek ’n BackaBuddy-veldtog begin om Oeh se mediese koste te dek. Die doelwit van R250 000 is binne 48 uur bereik.

Oeh, wat in 2021 op die Afrikaanse musiektoneel verskyn het met haar omstrede voorkoms en lirieke, het oor die afgelope paar jaar saam met verskeie bekende kunstenaars in die bedryf gewerk, onder andere Biggy, Loufi, Van Pletzen en Jack Parow.

Crouse sê Oeh was ten tyde van haar diagnose besig om aan nuwe musiek saam met vervaardigers Kay Faith en Van Pletzen te werk. Of van dié musiek nog die lig gaan sien, is nie op die oomblik bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

kommentaar ·

Ek ken nie die kind nie, nog nooit van haar gehoor nie, maar soms wonder ek of die vinnige gaan nie beter is as n lyding nie?

Delia ·

Dis maklik gesê, maar wanneer dit jou man of kind is, verander die prentjie.

Karoo ·

Delia, ek glo Komentaar bedoel dit nie gemeen nie. Ek stem saam met julle byde.

Delia ·

Karoo, ek het dit nie negatief opgeneem nie. My kommentaar is ook nie negatief bedoel nie. My man is dood van breinkanker. Dit is n moeilike pad.

Karoo ·

Goeiste…. dit het alles so vinnig gebeur. Inige simpatie met haar Ouers, Famielie, Verloofde en Vriende.

Leon ·

Alles het so vinnig gebeur. Dit is baie tragies. Sterkte aan al haar geliefdes.

SwartBees ·

Ek is baie jammer om die bitter nuus te lees.

van haar goed was maar lasterlik en mens kan maar net hoop in haar laaste oomblikke het sy vrede gemaak.

gpsa ·

Net so ruk terug nog gekyk na haar onderhoud op Praating, het dit baie geniet. Alle sterkte vir haar familie en geliefdes.

Christine ·

Ek het nie geweet wie sy is nie, toe gaan kyk rk bietjie…… niks van haar musiek het my inspireer nie – die woorde en lirieke erg lasterlik en kras. Wat my meer bekommer as dit, is die groot getal “aanhangers” wat op hierdie (kan ons dit musiek noem?) Oooh en aaaah…….. mag sy in haar laaste oomblikke ‘n ontmoeting met haar Skepper gehad het. Ek is jammer dat ‘n jongmens met sóveel potensiaal so vroeg moes sterf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.