Gesondheidsorg, geld en gevoelens

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Vir jare spoeg die ANC-propagandamasjien al boodskappe uit dat gesondheidsorg “gratis” moet wees. Hoor hoe mooi klink dit!

Jy wil nie simpatieke terme (soos versorging, hulp en gesondheidsdienste) vermeng met koue en gevoellose terme (soos markte, ekonomie en wins) nie. En wie wil nou die partytjie kom bederf deur te vertel dat gesondheidsorg nie gratis kán wees nie?

By nadere ondersoek is hierdie regtig ʼn interessante verskynsel: dat mense ʼn emosionele persepsie het dat sekere dinge gratis voorsien moet word, en dat sekere ander dinge slegs teen betaling voorsien moet word. Met gratis, in die voorafgaande sin, word daar natuurlik nie verwys na dit wat werklik gratis is nie, maar eerder dit wat as gratis voorgehou of beskou word. Want afgesien van reën, sonskyn en kakiebos is niks regtig gratis nie.

Die “gratis” dinge is nie ewe gratis vir almal nie

Oorhoofs word daar vir die meeste produkte en dienste op een van twee maniere betaal: direk uit jou sak na die produsent, óf met ʼn effense ompad – uit jou sak na Jan Taks en dan weer op sy beurt na die produsent.

In die geval waar jy die produsent direk betaal, ontvang jy gewoonlik self die produk, tensy jý gekies het om namens iemand anders te betaal. In die geval waar jy Jan Taks betaal het, ontvang jy hopelik iets in ruil daarvoor, tensy die regering besluit het dat jy vir iemand anders moet betaal.

Daarom is dit eintlik ʼn slinkse retoriese skuif van die regering om sekere goedere of dienste gratis te verklaar. Dit is soos om ʼn gravitasielose sone te verklaar – dit werk nie. ʼn Akkurater beskrywing is om te sê “gratis by die punt van lewering”, maar selfs dít is ʼn selektiewe beskrywing van wat werklik gebeur as die regering gedwonge herverdeling toepas. Op die ou end moet iemand steeds betaal.

ʼn Bykomende aspek is dat regerings dikwels besluit om nie slegs belastings te hef vir die openbare lewering van ʼn produk of diens nie, maar dan boonop die privaat lewering daarvan verbied of kniehalter – soos in die geval van nasionale gesondheidsversekering (NGV).

Die gevoel wat jy het oor geld

Maar terug by die verskynsel: Dit voel normaal dat almal self vir sommige dinge moet betaal, maar vir party ander dinge voel dit onmenslik om te verwag dat almal self daarvoor moet betaal. Slegs geharde sosialiste sal verwag dat alle kos met belastinggeld aangekoop en versprei moet word, terwyl slegs geharde anargistiese kapitaliste wil hê dat alle paaie met privaat geld gebou en gebruik moet word. Die res van ons is almal tevrede daarmee dat mense kos met hul eie geld koop, maar dat die dorp se paaie met belastinggeld gebou word. Ek beklemtoon dat hierdie vir die meeste mense primêr ʼn emosionele persepsie is en nie ʼn beredeneerde ekonomiese standpunt nie.

Tog is die emosionele persepsie nie ʼn goeie grondslag om ʼn land se ekonomiese stelsel op te bou nie. Die rede hiervoor is ʼn hele paar gevalle waar mense se emosionele persepsie daarop dui dat openbare voorsiening die beste is; wanneer die berekeninge gedoen word, is dit egter duidelik dat privaat voorsiening veel doeltreffender is.

Die gevoel wat jy het oor gesondheidsorg

Gesondheidsorg is presies só ʼn geval. Daar is ʼn legio emosionele argumente oor waarom dit wreed sou wees as mense privaat daarvoor sou moes betaal.

Wat as mense weggewys word – en sterf – omdat hulle nie ʼn lewensnooodsaklike operasie kan bekostig nie? Wat as dokters mense uitbuit omdat hulle weet dat die pasiënte desperaat is en nie ʼn ander uitweg het as om vir die gesondheidsdienste te betaal nie? Wat as sekere afgeleë gebiede geen gesondheidsdienste kry nie omdat daar nie ʼn groot genoeg mark daarvoor is nie?

Dít is die soort kwessies wat NGV gewild maak, maar wat nie nugtere ekonomiese beredenering weerspieël nie.

Die grap van NGV

Die meeste mense sal geredelik erken dat gesondheidsorg oor die afgelope 150 jaar met rasse skrede ontwikkel het, maar min waarnemers hou in gedagte watter stelsels nodig was sodat hierdie ontwikkeling kon plaasvind. Sosialiste wil ekonomiese vryheid verbied, sodat X-strale vir almal “gratis” kan wees, maar vergeet gerieflikheidshalwe dat ekonomiese vryheid vooraf nodig was vir die ontdekking van die X-straalmasjien.

Die NGV-wetsontwerp wil op sy beurt privaat hospitale verbied om enige pasiënte te kan wegwys, maar vergeet gerieflikheidshalwe dat die vryheid om pasiënte te kon wegwys vooraf nodig was om daardie hospitale te kon oprig: As ʼn klein privaat hospitaal heeldag besig is om pasiënte teen die minimum vergoeding te help, sal daar nooit besparings wees wat uitbreiding moontlik maak nie. As innoverende spesialiste nooit ʼn afspraak van die hand mag wys nie, kry hulle dalk nooit die geleentheid om ʼn tegniek te ontwikkel wat nuwe hoop vir siek mense bring nie.

Vir elke groot tree vorentoe in gesondheidsorg – hetsy ʼn grensverskuiwende uitvinding of die oprigting van nuwe infrastruktuur – is daar ʼn paar besluite geneem wat maklik op ʼn verkeerde tydstip as “onmenslik” uitgebeeld kon word.

Om af te sluit: vir gesondheidsorg om doeltreffend in Suid-Afrika te funksioneer moet daar iewers ʼn balans tussen geld en gevoelens gevind word – en NGV is beslis vêr buite die kol.

  • Louis Boshoff is ʼn veldtogbeampte by AfriForum. Hy het ʼn BPharm-graad in aptekerswese (cum laude) en is tans besig met ʼn meestersgraad in farmakoëkonomie aan die NWU. Hy is medeaanbieder van Podlitiek, lees goeie Afrikaanse letterkunde en is ʼn avontuurlustige rotsklimmer in sy vrye tyd. Louis beywer hom vir die boodskap van die heerskappy van Jesus Christus oor alle dinge.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter ·

Goed Louis, kom ek gee jou dan ‘n gevoellose koue argument teen die huidige stelsel. Die vrye mark werk op sy beste as jy vir ‘n gebruiker ‘n keuse gee. Dit moet ‘n regte keuse wees waar jy koste opweeg teen wat die voordeel vir jou sal wees sonder enige bedreiging wat die keuse beïnvloed. As jy besig is om ‘n hartaanval te kry en jy bel die ambulans wil jy nie met ‘n pryslys gegooi word en dan 10 minute neem om ‘n besluit te maak oor watter hospitaal jou die beste waarde gee nie. Nou goed dis waarom mediese fondse bestaan, jy kies vooraf.

Maar dit skep nou ‘n nuwe probleem. Nou is mediese hulp ontkoppel van wat normale kliënte daarvoor kan betaal. Die koste van die hulp word nou aangepas na wat die mediese fondse kan betaal nie die egte individuele kliënte nie. Die stelsel is nou afhanklik van mediese fondse om te funksioneer. As jy nie een het nie sterkte.

Die huidige stelsel is gebreek en ek weier om dit te verdedig. Dit is goed vir ‘n baie klein aantal mense, die ergste is dis waarskynlik ook sleg vir die meerderheid van die artikel se lesers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.